Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nie-nakoming keer dat Suid-Afrika van die gryslys verwyder word
# Instituut van Aftreefondse waarsku oor uitdagings met toegang tot pensioene in September
# En, rugby: Die Springbok-senter André Esterhuizen is vir drie wedstryde geskors ná sy rooikaart teen Portugal
# Die Finansiële Intelligensiesentrum waarsku regs- en eiendomspraktisyns se nie-nakoming belemmer Suid-Afrika se pogings om volgende jaar van die gryslys verwyder te word. Die sentrum het in Maart verlede jaar twee riglyne uitgereik wat onder andere gemik is op regspraktisyns, eiendomsagente en handelaars van kosbare edelstene. Christopher Malan van die sentrum het aan die SABC gesê die regs- en eiendomsektor is uitgewys as gevaarplekke vir geldwassery en finansiering aan terroriste, maar kom steeds nie die riglyne na nie:
# Die Instituut van Aftreefondse waarsku oor moontlike uitdagings om vanaf September toegang tot pensioenfondse te kry. President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse onderteken wat lede se voordele in ‘n spaarpot en ‘n aftreepot sal verdeel. ‘n Woordvoerder van die fonds, Wayne Hiller van Rensburg, het aan Newzroom Afrika gesê ‘n groot aanvraag sal moontlik te veel wees vir die nodige infrastruktuur:
# Demokrate in Amerika het meer as 1,8-miljard-rand geskenk vir visepresident Kamala Harris se verkiesingsveldtog sedert president Joe Biden Sondag onttrek het. Dit sluit net minder as 1,5-miljard-rand in binne 24-uur se fondsinsameling, geskenk deur byna 900-duisend mense wat elk tot drie-duisend-600-rand gegee het. Skenkers wat bekommerd was die 81-jarige Biden is te oud vir nog ‘n termyn sê hulle sal nou weer die party steun. Die 59-jarige Harris sal na verwagting op volgende maand se nasionale konvensie gekies word as die Demokrate se kandidaat.
# Rugby: Die Springbok-senter André Esterhuizen is vir drie wedstryde geskors ná sy rooikaart in die toets teen Portugal in Bloemfontein. Sy geelkaart vir ‘n kopstamp in ‘n plettervat op José Lima is na ‘n hersiening aangepas na rooi. Esterhuizen is vir vier weke geskors, maar dit word tot drie weke veminder indien hy Wêreldrugby se ingrypingskursus voltooi. Hy sal die skorsing tydens die Curriebekerkompetisie uitdien nadat hy uit die Rugbykampioenskaps-toer na Australië gelaat is. Hy sal vir die kragmetings met die All Blacks beskikbaar wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-290-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-412-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Wetenskaplikes sê haaie aan die kus van Brasilië het positief getoets vir kokaïene. Navorsers het lank reeds vermoed die seelewe kan beïnvloed word deur smokkelaars wat dwelms in die oseaan stort. Wetenskaplikes het 13 Brasiliaanse skerpneushaaie ontleed en tekens van kokaïene in al die visse gevind, met ‘n konsentrasie tot 100 keer hoër as wat voorheen aangemeld is vir ander seediere. Die Amerikaanse Kuswag het in Junie verlede jaar in die Karibiese See en die Atlantiese Oseaan beslag gelê op meer as ses-duisend-400-kilogram kokaïene, met ‘n beraamde waarde van 3,4-miljard-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….