Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kleinsake-ondernemings kry ‘n hupstoot met die ondertekening van die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Kleinsake
# Kamala Harris verdien genoeg steun van afgevaardigdes vir die Demokrate se benoeming as Amerikaanse presidentskandidaat
# En, die Olimpiese Spele: Carlos Alcaraz sal Rafael Nadal leiding laat neem in hulle dubbelspel-tenniswedstryde in Parys
# President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Kleinsake as wet bekragtig. Dit wysig die Nasionale Kleinsakewet van 1996 om ‘n nuwe instelling, die Kleinsake-ontwikkelings-finansiële Agentskap, te skep. Die president sê die agentskap sal ʼn eenstop-hulpmiddel vir entrepreneurs wees en die ontwikkeling van koöperatiewe bankinstellings bevorder. Die wet maak ook die ombud-dienskantoor vir Kleinsake moontlik wat ʼn billike handelsomgewing vir kleinsake-ondernemings skep.
# Die eThekwini-munisipaliteit sê die ReSURGEnce-konferensie wat verlede week in Durban gehou is, was ʼn groot sukses wat tot beleggings en swart bemagtiging sal lei. ʼn Globale afvaardiging van 100 mense uit Amerika en nog 170 uit ander wêrelddele het die konferensie bygewoon. ‘n Senator van die staat New York, James Sanders Junior, sê die konferensie was ʼn besondere ervaring:
# Amerika se visepresident, Kamala Harris, het genoeg Demokratiese afgevaardigdes se ondersteuning gekry om as die party se presidentskandidaat benoem te word. Sy het meer as die een-duisend-976 wat sy nodig het vir die benoeming op die eerste stembrief. Harris kan eers volgende maand op die Demokrate se nasionale konvensie amptelik as kandidaat benoem word. Sy het by die verkiesings-hoofkwartier in Delaware gesê sy wil die party en Amerika verenig, en Donald Trump van die Republikeine verslaan:
# Olimpiese Spele: Die heersende Wimbledon- en Franse Ope-tenniskampioen, Carlos Alcaraz, sê hy sal sy legendariese landgenoot Rafael Nadal die leiding laat neem wanneer hulle in die dubbelspel in Parys speel. Die 21-jarige wêreld-nommer-drie sê hulle sal eers taktiek bespreek wanneer hulle in die Franse hoofstad aankom. Die kompetisie vind plaas op Roland Garros, waar die 38-jarige Nadal 14 van sy 22 Grand Slam-titels ingepalm het. Alcaraz, wat vier Grand Slam-toernooie gewen het, sê hy’s nog nat agter die ore terwyl Nadal reeds spog met twee goue medaljes.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-669-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-397-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: Die koning van popmusiek, Michael Jackson, se ondertekende sketse gaan volgende maand in Los Angeles opgeveil word. King’s Auctions sê Jackson is deur talle kunsvorms beïnvloed – van klassieke werke en argitektuur tot pop-kuns en selfs formele portretstudies. Die maatskappy sê hy was ook baie lief vir Londense en Britse kunsstyle. Agt-en-sewentig kunswerke gaan opgeveil word. Jackson is in 2009 in die ouderdom van 50 oorlede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….