Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Struggle-veterane beskuldig die huidige ANC-leierskap dat hy Mandela se nalatenskap beledig
# ActionSA sê Suid-Afrikaanse tronke is vakansie-oorde wat deur die belastingbetalers onderhou word
# En, rugby: Die Wêreldbeker-toer besoek Bloemfontein voor die toets tussen die Bokke en Portugal
# Die anti-apartheidveterane Cas Coovadia, Neeshan Balton en Mavuso Msimang het kommer uitgespreek dat die huidige ANC-leierskap wegbeweeg het van Nelson Mandela se filosofie. Vandag is Internasionale Nelson Mandeladag. Die veterane beskuldig die leiers dat hulle Mandela se waardes van selfloosheid laat vaar het, en voorkeur gee aan hulle eie persoonlike belange. Coovadia vra die regering van nasionale eenheid moet weer Mandela se beginsels onderskryf, terwyl Balton en Msimang die belangrikheid beklemtoon van eenheid en die vervulling van onbereikte ekonomiese doelwitte.
# ActionSA sê hy is woedend dat Suid-Afrikaanse tronke in vakansie-oorde verander het wat deur belastingbetalers befonds word. Die party sê misdadigers leef sorgvry sonder enige beperkinge of gevolge. ‘n Gevangene in die Goodwood-tronk in Kaapstad spog in ‘n video op sosiale media dat hy toegang het tot gratis kos en elektrisiteit, en hy mag boonop enige tyd ʼn selfoon gebruik. Samkelo Mgobozi van ActionSA sê dis ʼn verdoemende aanklag teen ʼn mislukte korrektiewe stelsel en ʼn belediging vir misdadigers se slagoffers:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê hy gaan die minister van Landbou, John Steenhuisen, vra om ʼn tydelike verbod te plaas op die vervoer van lewende hawe na die provinsie. Dit volg na die uitbreking van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap. Meyer sê weens die bedreiging wat die siekte vir beesboerdery inhou, moet boere waaksaam bly en biosekerheids-maatreëls verskerp:
# Die vakbondfederasie Cosatu doen ‘n beroep vir sanksies teen Eswatini nadat twee lede van die land se Parlement 68-jaar tronkstraf opgelê is omdat hulle gevra het vir demokrasie. Mduduzi Bacede Mabuza en Mthandeni Dube is skuldig bevind aan opstook van onrus tydens pro-demokrasiebetogings in Junie 2021. Meer as 80 betogers is dood. Die twee is in Junie verlede jaar skuldig bevind aan terrorisme, aanhitsing en moord. Bongani Masuku van Cosatu sê hulle is geskok en woedend oor die wrede vervolging van die twee LP’s:
# Rugby: Inwoners van Bloemfontein en besoekers aan die Vrystaatse hoofstad vir Saterdag se toets tussen die Springbokke en Portugal, kan vandag die Wêreldbeker sien. Vyf lede van die triomfantelike Bokspan besoek vanaf eenuur vanmiddag die Loch Logan-winkelsentrum. Hulle is die plaaslike helde Ox Nché en Cobus Reinach, asook Lukhanyo Am, Grant Williams en Trevor Nyakane. Die president van SA Rugby, Mark Alexander, sê dit is wonderlik om die trofee na Bloemfontein te neem voor die Bokke Portugal aandurf in ‘n uitverkoopte Vrystaat-stadion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-794-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-472-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….