Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingshof aanvaar die OVK se versoek om die MK-party se saak oor verkiesingsknoeiery aan te hoor
# Die DA staan minister Nyhontso se druk op onteiening sonder vergoeding teen
# En, rugby: Die Springbokke is vasberade om hul hoë spelpeil te herwin
# Die Verkiesingshof het ingestem tot die Verkiesingskommissie se versoek om die MK-party se saak teen die verkiesingsuitslag aan te hoor – al het die party die aansoek teruggetrek. Die OVK sê die kennisgewing van onttrekking was onregmatig en die saak moet steeds aangehoor word om die bewerings van verkiesingsknoeiery openlik voor te lê en te toets. MK beweer hy is van stemme beroof. Die saak word op 29 Julie virtueel aangehoor.
# Die DA onderneem om grondregte in die Grondwet te beskerm. Die party is gekant teen die minister van Grondhervoming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, se druk op die heropening van die debat oor onteiening sonder vergoeding, en sê dit weerspreek die gees van die regering van nasionale eenheid. Mlindi Nhanha van die DA betoog Artikel 25 laat reeds regverdige en billike grondhervorming toe en dat die heropening van die kwessie ekonomiese onbestendigheid sal skep:
# Die polisie in Kenia het ‘n vermeende reeksmoordenaar aangekeer. Hy erken hy het 42 vroue vermoor, onder andere sy eie vrou, en van hulle verminkte liggame ontslae geraak op ‘n stortingsterrein in Nairobi. Van Vrydag af is dele van altesaam nege liggame in plastieksakke aangetref op die vullisterrein in die Mukuru-krotbuurt in die suide van die hoofstad. Die grusame ontdekking het die nasie geskok. Die 33-jarige verdagte, uitgeken as Collins Jumaisi Khalusha, beweer die moorde is tussen 2022 en 11 Julie vanjaar gepleeg.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, sê hulle is vasberade om hul hoë spelpeil te herwin in Saterdag se toets teen Portugal in Bloemfontein. Die Bokke het hul ses-twee verdeling op die plaasvervangersbank behou in die reeks teen Ierland en dit het gewerk toe hulle die eerste toets op Loftus Versveld 27-20 gewen het, maar nie toe hulle die tweede toets op Kingspark 24-25 verloor het nie. Davids sê die span is hoogs gemotiveerd om hul spelpeil te herwin ná verlede week se nederlaag:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-985-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-433-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-16-sent per vat.
# Ten slotte: Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het met LC Dynamics saamgewerk om ‘n nuwe energiebesparende uitvinding te ontwikkel. Dié uitvinding is slim-blindings met ingeboude sonpanele wat verskeie noodsaaklike huistoestelle kan herlaai. ‘n Kenner van die meganiese en elektroniese ontwikkeling van die produk, Curtis Tshehla, sê die sonkrag-blindings kan ‘n besparing in huishoudings se kragrekening meebring. Hy sê dit bespaar energie deur die binnekant van die huis koel te hou en die koste van lugversorging met tot 40-persent te besnoei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….