Nuus 12:00
BULLETIN 30 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika verkies dialoog bo geweld
# Madlanga-kommissie gaan R147,9-miljoen oor ses maande kos
# En, ActionSA staan ANC se poging teen om Tshwane se stadsbestuurder te verwyder
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika is gekant teen oorlog en verkies dialoog bo geweld. Hy het die Verenigde Nasies se tweestaat-konferensie in New York toegespreek wat daarop gemik is om die voortslepende konflik tussen Israel en Palestina op te los. Lamola sê daar kan nie vrede wees terwyl Palestyne se voortbestaan bedreig word deur Israel se optrede in Gaza nie:
Nederland het intussen twee Israelse ministers tot ongewenste persone verklaar vir die aanhitsing van geweld en etniese suiwering in Gaza. Nederland het verlede jaar ‘n mislukte voorstel deur Swede ondersteun om Europese Unie-sanksies toe te pas op die minister van Finansies, Bezalel Smotrich, en die minister van Nasionale Sekerheid, Itamar Ben-Gvir. Smotrich het op X gesê Europese leiers het geswig onder die leuens van radikale Islam wat oorneem en stygende antisemitisme. Ben-Gvir sê hy sal aanhou optree vir Israel, selfs al word hy in die hele Europa verban.
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling sê die Madlanga-ondersoekkommissie se beraamde begroting vir ses maande is 147,9-miljoen-rand. Die kommissie wat deur president Cyril Ramaphosa aangestel is, sal KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings van korrupsie en sameswering in die regstelsel ondersoek. Die departement sal ook toesig hou oor die verkrygingsproses vir die kommissie se bedrywighede. Hy sê weens die kommissie se tydlyne het hy by die Nasionale Tesourie aansoek gedoen om af te wyk van die standaard-verkrygingsprosesse.
# ActionSA sê hulle sal nie die ANC se poging steun om Tshwane se stadsbestuurder, Johan Mettler, te verwyder nie, en waarsku dit sal onnodige onbestendigheid veroorsaak. Die ANC in die metro beweer daar is teenstrydighede met sy aanstelling. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê hulle glo in die skeiding tussen politieke en administratiewe kwessies in regering:
Nou sportnuus:
# Wêreldrugby waarsku dat toetse steeds die toppunt is en enige franchise-liga wat spelers nie daardie geleentheid bied nie, nie die beste talent sal lok nie. Uitvoerende hoof Alan Gilpin het reageer op die beplande wêreldwye R-360 -globale liga wat deur die voormalige Engelse senter Mike Tindall aangevoor word. Dit beplan glo om die voorste spelers te lok met reuse-geldelike aanbiedings soos IPL-krieket en LIV-gholf. Gilpin sê hulle verwelkom enige belegging wat ‘n meer finansieel-bestendige sport skep. Wêreldrugby dwing erkende kompetisies om spelers vry te stel vir toetse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-en-12-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….