Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid lê vandag sy 2024/25-begroting ter tafel in die Parlement
# Arthur Zwane is terug as die MK-party se sekretaris-generaal
# En, rugby: Fin Baxter is die eerste keer in Engeland se beginspan vir die toets teen die All Blacks
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, lê vandag sy begroting ter tafel in die Nasionale Vergadering. Hy sal beplanning en voorkeure uiteen sit om die openbare gesondheidstelsel die volgende vyf jaar te versterk. Die begrotingsdebatte begin vandag en duur tot die 24ste, en sal die Parlement en die publiek op die hoogte bring van die prestasie van departemente en die aanwending van openbare fondse. Die begroting van ander ministeries, insluitende Maatskaplike Ontwikkeling, Polisie en Vervoer, word ook gedurende hierdie tyd hanteer.
# Die MK-party het aangekondig dat Arthur Zwane weer terug is as sekretaris-generaal nadat die party se president, Jacob Zuma, nie sy bedanking aanvaar het nie. Hy het verlede week bedank en ‘n groot werkslading as rede aangevoer. Sifiso Maseko, wat Zwane se rol oorgeneem het, word na die Departement van Menslike Hulpbronne verskuif. Nhlamulo Ndhlela van MK sê deurlopendheid in die party is belangrik weens die onseker tye onder die regering van nasionale eenheid:
# Kaapstad se Verkeersdepartement sê hulle het oornag talle berigte ontvang van oorstromings en versperrings op paaie, en talle roetes is gesluit. AZ Berman-rylaan tussen Wespoort en Imperial is gesluit, asook die M5-suid se afrit by Otteryweg, en Rockley- en Lester-weg in Wynberg weens water onder die treinbrug. Die departement se woordvoerder, Maxine Bezuidenhout, sê bome versper talle paaie, insluitend die R300-noord by Hindleweg:
Agri Wes-Kaap sê intussen hoewel die gure weer oes- en infrastruktuurskade kan aanrig, is die reën broodnodig. Die provinsie ondervind swaar reën wat tot oorstromings, sterk wind en sneeu gelei het. Jannie Strydom van Agri Wes-Kaap sê die reën maak die groot opvanggebiede vol wat noodsaaklik is vir gewasse soos koring, kanola, gars en hawer. Hy voeg by boere is dankbaar vir die reën ondanks moontlike skade in laagliggende gebiede.
# Rugby: Die loskopstut, Fin Baxter, is die eerste keer in Engeland se opdrafspan wanneer hulle Saterdag teen Nieu-Seeland uitdraf op Eden Park in Auckland. Die 22-jarige Baxter het verlede week sy debuut van die bank gemaak gemaak in die eerste toets in Dunedin, wat hulle naelskraaps 16-15 verloor het. Hy vervang die beseerde Joe Marler. Bevan Rodd sal Baxter op die bank ondersteun. Engeland moet wen om die reeks gelykop te maak op ʼn veld waar die All Blacks 30 jaar laas verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-172-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-383-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….