Nuus 12:00
BULLETIN 3 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TotalEnergies gaan afstand doen van sy Suid-Afrikaanse gaskondensaat-ontdekkings
# Die Kaapstadse hawe se produktiwiteit styg die afgelope ses maande met 30-persent
# En, tennis: Die verdedigende kampioen erken die senuwees het gepla toe sy by Wimbledon uitval
# TotalEnergies beplan om afstand te doen van gaskondensaat-ontdekkings langs die Suid-Afrikaanse kus om eerder te fokus op gebiede nader aan Namibië. Die maatskappy het 7,4-miljard-rand bestee aan die Brulpadda- en die Luiperd-veld, maar twyfel oor die kommersiële haalbaarheid weens die klein gas-mark in Suid-Afrika. Die vertrek sal na verwagting planne benadeel om afhanklikheid van steenkool te verminder. Africa Energy Corporation het ook aangekondig hy onttrek van die gesamentlike ooreenkoms met TotalEnergies. Wetgewende vertragings en omgewingsveldtogte het die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse olie- en gasvelde beïnvloed.
# Die produktiwiteit van die Kaapstadse hawe het die afgelope ses maande met 30-persent gestyg. Transnet sê dié styging is te danke aan nuwe toerusting en beleidsverandering. Belangrike verbeterings by die hawe sluit in personeelverskuiwings, sewe nuwe oorhoofse hyskrane en tien vragmotors vir die vervoer van vraghouers. Die hawe se bedryfstelsel is ook opgegradeer. Die voorsitter van ‘n organisasie van Wes-Kaapse uitvoerders, Terry Gale, sê hy is optimisties dat die hawe voortdurend beter sal presteer.
# Die nuut-aangestelde minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê hy is gereed om uitdagings te pak, waaronder die verbetering van die werkvisumproses, wat deurslaggewend is vir ekonomiese groei. Ondernemings kla herhaaldelik oor die lang vertragings met die goedkeuring van werkvisums vir senior personeellede. Schreiber het aan eNCA gesê hy wil ook basiese inligtings-tegnologie- en sakeprosesse verbeter om toustaan teen te werk en diensdoeltreffendheid en waardigheid te verhoog:
# Die gewese burgemeester van New York, Rudy Giuliani, is van die rol geskrap nadat ‘n hof bevind het hy het herhaaldelik vals verklarings gemaak oor oudpresident Donald Trump se nederlaag in 2020 se verkiesing. Hy was ʼn federale aanklaer en Trump se regsraadgewer. Die Appèlhof in Manhattan het beslis Giuliani, wie se New Yorkse regslisensie in 2021 opgeskort is omdat hy vals bewerings oor die verkiesing gemaak het, mag nie meer regsdienste in die staat lewer nie. Hy word ook in Georgia en Arizona strafregtelik aangekla.
# Tennis: Wimbledon se verdedigende vroue-kampioen, Marketa Vondrousova, sê sy het gesukkel om haar senuwees te kalmeer toe sy in die eerste ronde uitgeskakel is. Die wêreld se nommer 83, Jessica Bouzas Maneiro van Spanje, het die 25-jarige Tsjeg 6-4, 6-2 verslaan vir haar eerste Grand Slam-oorwinning. Dis die eerste keer sedert 1994, toe Steffi Graf teen Lori McNeil verloor het, dat die verdedigende vrouekampioen in die eerste ronde uitgeskakel word. Vondrousova sê sy wil uit hierdie ervaring leer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-804-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-346-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….