Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die DA is in elke groepering van die regering verteenwoordig
# ATM vra die nuwe kabinet om voorkeur te gee aan Suid-Afrikaners se behoeftes
# En, tennis: Groot sterre speel vandag op Wimbledon se eerste dag
# Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die aanwysing van die kabinet in die regering van nasionale eeheid baan die weg om aan die werk te spring vir Suid-Afrikaners. Die DA het ses ministers- en ses adjunkministers-portefeuljes beklink. Dit sluit in Steenhuisen as minister van Landbou, Siviwe Gwarube as minister van Basiese Onderwys, en Leon Schreiber as minister van Binnelandse Sake. Steenhuisen sê die DA is die enigste ander party wat nou in elke goepering van die regering verteenwoordig word:
Die African Transformation Movement sê intussen hy is verlig dat president Cyril Ramaphosa die nuwe kabinet aangekondig het en die uitgerekte magstryd vir poste uiteindelik afgehandel is. Ramaphosa het gisteraand 75 ministers en adjunkministers aangekondig wat dit een van die land se grootste nasionale uitvoerende owerhede in die demokratiese geskiedenis maak. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona Reax, sê die nuwe regering moet in alle besluitnemingsprosesse voorkeur gee aan die behoeftes en belange van landsburgers:
# Eenheid 5 van die Kusile-kragstasie is ná ses maande se streng toetse en optimalisering uiteindelik by Eskom se vloot ingeskakel. Die amptelike oorhandiging voeg ʼn noodsaaklike 800 megawatt by die kragnetwerk. Dit is ʼn mylpaal in pogings om Suid-Afrika se kragvoorsiening bestendig te maak. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê wanneer dit voltooi is, sal Kusile ses eenhede hê wat ʼn maksimum van vier-duisend-800 megawatt kan opwek:
# Tennis: Die verdedigende manskampioen, Carlos Alcaraz, open vandag spel op die hoofbaan op die eerste dag van Wimbledon. Die Spanjaard pak die kwalifiseerder van Estland, Mark Lajal, wat 262ste op die wêreldranglys is. Alcaraz het Novak Djokovic verlede jaar geklop vir sy eerste Wimbledon-titel en het intussen die derde Grand Slam-titel van sy loopbaan op die Franse Ope ingepalm. Die wêreld nommer een, Jannik Sinner, Aryna Sabalenka, Coco Gauff en Emma Raducanu is van die ander sterre wat op die eerste dag van Die Kampioenskap speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-174-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-323-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Water- en koeldrankbottels wat van poliëtileen-tereftalate gemaak is, sink in die see tensy daar lug in is. Die proppe word gemaak van polimere wat kan dryf en lang afstande kan aflê. Dit is volgens navorsers van die FitzPatrick Instituut vir Afrika-voëlkunde aan die Universiteit van Kaapstad en die Nelson Mandela Universiteit. Navorsers het meer as 13-duisend-200 proppe op 20 strande aan Suid-Afrika se suidwes-kus bymekaar gemaak. Die studie het bevind op die meeste strande was meer proppe as bottels as gevolg van die manier waarop dit dryf en versprei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….