Nuus 12:00
BULLETIN 29 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die publiek sal toegang hê tot die verhore van die kommissie wat die KwaZulu-Natalse polisie-kommissaris se bewerings ondersoek
# Die Stad Tshwane oorweeg steeds die Iranse ambassade om die Pretoriase stadsaal te huur
# En Wêreldrugby steun die skeidsregter-beslissings in die tweede toets tussen die Wallabies en die Leeus
# Regter Mbuyiseli Madlanga het bevestig dat die publiek toegang sal hê tot die kommissie van ondersoek se verhore oor die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings oor politieke inmenging. Die verrigtinge sal ook regstreeks gestroom word, tensy anders bepaal. Madlanga is ook bewus van die hangende geding in die Konstitusionele Hof wat die instelling van die kommissie betwis. Hy het bevestig dat hulle hofbeslissings sal gehoorsaam, maar sê die voorbereidings vir openbare verhore gaan steeds voort:
# Die Stad Tshwane sê hy oorweeg nog die Iranse ambassade se versoek om die Pretoriase stadsaal te huur, maar het nog nie ingestem nie. Die stadsaal word al byna ‘n dekade lank nie gebruik nie en sowat 200-miljoen-rand is nodig om dit op te knap. Die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi, sê onderhandelings tussen die metro en die ambassade is ondersoekend van aard en geen party het hom nog tot ’n ooreenkoms verbind nie.
# Die DA in Gauteng is bekommerd omdat seweduisend-743 pasiënte verlede jaar hospitaalverworwe besmettings opgedoen het, insluitend talle antibiotika-weerstandige toestande wat moeilik behandelbaar en lewensgevaarlik kan wees. Dié toestand ontwikkel tydens ‘n pasiënt se verblyf in ‘n hospitaal. Jack Bloom van die DA sê die Gautengse Gesondheidsdepartement skryf die situasie toe aan personeeltekorte, oorbevolking en onvoldoende geriewe vir handhigiëne:
# Die Department van Handel, Nywerheid en Mededinging sê Suid-Afrikaanse maatskappye het belowende terugvoer gekry op die Internasionale skou vir die verdegingsbedryf in Istanbul, Turkye. ‘n Maatskappy wat beskermende klere vervaardig, Imperial Armour, het 12 uitnodigings van tien lande ontvang om sake te doen, terwyl Canvas and Tent, wat kamptoerustingstelsels vervaardig, ‘n vertroulike ooreenkoms met ‘n Europese maatskappy gesluit het. Die departement het die skou as ‘n sukses vir verdedigings-uitvoerders bestempel.
# Rugby: Die uitvoerende hoof van Wêreldrugby, Alan Gilpin, het sy steun uitgespreek vir die wedstrydbeamptes in die tweede toets tussen Australië en die Britse en Ierse Leeus in Melbourne. Hulle is erg gekritiseer oor die besluit om Jac Morgan nie te straf vir ‘n vermeende onwettige optrede voor die Leeus-heelagter Hugo Keenan se wendrie nie. Die kritici sluit in die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, en Rugby Australia se uitvoerende hoof, Phil Waugh. Gilpin sê hulle sal soos gewoonlik skeidsregterbesluite hersien, maar nie die bevindings bekend maak nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-56-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….