Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verander sy Kabinet-aanbod aan die DA en vervang ‘n belangrike ministerie met ‘n minderwaardige een
# Die mynbedryf het die afgelope 30 jaar naastenby 130-duisend werksgeleenthede verloor
# En, sokker: Lionel Messi sal dalk sy ondersteuners teleur stel
# Onderhandelinge tussen die ANC en die DA stuur op konfrontasie af nadat president Cyril Ramaphosa die bepalings van ‘n vroeëre aanbod aan die party verander het. News24 berig die DA kry steeds ses kabinetsetels, maar ʼn belangrike ministerie is nou van die lys gehaal. Dit is vervang met een wat byna geen begroting het nie en baie min maatskaplike of ekonomiese invloed. Die nuusdiens sê die ANC beskou die aanbod as die laaste kans vir die DA om by die regering aan te sluit. Ramaphosa het die DA-leier, John Steenhuisen, gevra om teen Sondag oor die aanbod te besluit.
# Die Mineraleraad sê die mynbedryf het afgelope 30 jaar naastenby 130-duisend werksgeleenthede verloor. Die uitvoer van minerale het in 2023 met 100-miljard-rand afgeneem vergeleke met 2022, en minerale tantieme het gedaal van 25-miljard-rand tot 14-miljard-rand. Die uitvoerende hoof, Mzila Mthenjane, sê infrastruktuurbeperkings is ‘n sleutelfaktor in die afname in myn-uitset. Hy beklemtoon ontginning moet nuwe lewe kry vir die bedryf se volhoubaarheid en ekonomiese bydrae.
# ActionSA in Tshwane verwelkom die stad se munisipale komitee vir openbare rekeninge wat verskeie verslae oor onregmatige besteding aanvaar het en sy besluit om miljoene rand van korrupte amptenare terug te eis. ActionSA-woordvoerder Tshepiso Modiba sê die verslae wat gister aanvaar is, lig fondse uit wat sonder behoorlike magtiging of in oortreding van finansiële protokol bestee is. Modiba sê die Artikel 79A-komitee het aanbeveel onregmatige besteding van 246-miljoen-rand moet in die 2023/2024-boekjaar herwin word:
# Die regering van Zimbabwe gaan na verwagting begin met ‘n program om kontanttoelaes aan kwesbare stedelike gemeenskappe te gee. Dit is in reaksie op die uitwerking van die El Niño-droogte in dele van die land. Die minister van Maatskaplike Welstand July Moyo het die toekenning van tot 250-milljoen-rand aangekondig wat tot Maart volgende jaar maandeliks versprei sal word:
# Sokker: Lionel Messi gaan dalk Saterdag se wedstryd in die Copa America teen Peru misloop om ‘n seer dyspier te laat rus, nadat sy span reeds met twee oorwinnings vir die volgende ronde gekwalifiseer het. Messi is vandeesweek 37 en het mediese behandeling ontvang tydens Argentinië se oorwinning van 1-0 oor Chili by die toernooi in Amerika. Hy was wel vir 90 minute op die veld en het rakelings met ‘n langafstand-doelskop misluk. Messi was betrokke by talle Argentynse aanvalle. Die wêreldkampioene en toernooigunstelinge is bo-aan Groep A met ses punte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-789-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-303-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….