Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Pan-Afrikaanse parlement kan ineenstort weens ‘n gebrek aan geld en binnegevegte
# ActionSA kritiseer die vertraging in belangrike regeringswerk weens die ministeriële pos-onderhandelings
# En, tennis: Wimbledon 2024 se mans-enkelspel behoort aan die jonges
# Die Pan-Afrikaanse parlement met sy hoofkwartier in Midrand loop volgens berigte gevaar om ineen te stort. Sy president, Fortune Charumbira van Zimbabwe, sê die parlement staan deesdae bekend as ‘n “instelling van skobbejakke” en dis die wetgewers se verantwoordelikheid om dit reg te stel. Die parlement word verswelg deur interne geskille wat befondsing onderbreek het. News24 berig die parlement was van Augustus 2023 tot in Maart onaktief terwyl Charumbira se leierskap bevraagteken is omdat hy aanklagte van geldverduistering in die gesig gestaar het.
# ActionSA sê die sewende administrasie se kritieke werk word vertraag deur die intense stryd om poste. Volgens die party het agterkameronderhandelings vir ministeriële poste kwessies soos kabinetgrootte en uitvoerende aanspreeklikheid opsy gestoot, met uitgelekte besonderhede wat ondeursigtige gesprekke onthul het. Athol Trollip van ActionSA het president Cyril Ramaphosa se ommekeer oor die vermindering van die kabinet se grootte en die DA en ANC se poging om aanstellings van direkteur-generaals te beïnvloed, gekritiseer:
# Kanada het sy burgers versoek om uit Libanon pad te gee terwyl hulle nog kan, en waarsku die gevaar van geweld tussen Israel en Hizbolla in die gebied neem toe. Kanada se minister van Buitelandse Sake, Melanie Joly, vra haar landgenote in ‘n verklaring om Libanon te verlaat terwyl handelsvlugte nog nie geraak word nie. Joly sê die veiligheidsituasie in Libanon raak toenemend plofbaar en onvoorspelbaar weens volgehoue en en toenemende geweld tussen Hizbollah en Israel. Sy waarsku die situasie kan sonder waarskuwing versleg.
# Tennis: Carlos Alcaraz begin Maandag om sy 2023 Wimbledon-titel te verdedig. Sy hoofteenstander is die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner. ʼn Oorwinning sal die 21-jarige Spanjaard ná sy Franse Ope-sege agtereenvolgende Grand Slam-krone besorg. Die sewemalige kampioen, Novak Djokovic, asook die 2013- en 2016-wenner Andy Murray, sukkel tans met beserings. Met Roger Federer wat afgetree het, en Rafael Nadal wat uitrus vir die Olimpiese Spele, sal dit die eerste keer in 22 jaar wees dat nie een van die Groot Vier in die eindstryd is nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-508-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-37-sent per vat.
# Ten slotte: Die Stad Kaapstad sê pro-aktiewe instandhoudingswerk aan die waternetwerk op die Kaapse Vlakte word vandag afgehandel. Peninsula Beverages het saamgespan en meer as vier-duisend-800-liter gebottelde water geskenk en twee watertenkwaens van 33-duisend liter elk beskikbaar gestel om die stad te help om tenkwaens gouer te hervul. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê vier van ses kleppe is reeds vervang:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….