Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Musi Maimane skryf aan Ramaphosa om dringend ‘n nasionale konvensie byeen te roep bestaande uit al 18 Parlementêre partye
# OUTA is bekommerd oor die openbare gekibbel oor posisies in die regering van nasionale eenheid
# En, tennis: Djokovic sal op Wimbledon speel mits hy oortuig is hy kan die titel wen
# BOSA se leier, Mmusi Maimane, sê hy het aan president Cyril Ramaphosa geskryf en versoek hy moet dringend ‘n nasionale konvensie byeenroep wat uit al 18 Parlementêre partye bestaan. Verder moet daar ‘n mandaat wees om te besluit oor die doel, agenda en omvang van ‘n nuwe regering van nasionale eenheid. Maimane sê ‘n nasionale konvensie bied die mees demokratiese en deursigtige weg om ooreen te kom rakende die samestelling van ‘n nuwe nasionale regering wat gegrond is op waardes en dienslewering:
Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê intussen hy is bekommerd oor politieke partye se openbare gekibbel oor poste in die regering van nasionale eenheid. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê dit kan die vorming van ‘n stabiele en volhoubare RNE in gedrang bring terwyl die land dit dringend nodig het. Duvenage sê as meer tyd nodig is om ʼn vriendskaplike en werkbare ooreenkoms te bereik, verkies OUTA dat dit ʼn week of twee langer duur eerder as ʼn oorhaastige proses wat tot voortdurende konflik lei:
# Die Vertroue-aanwyser van die Landbousakekamer van Suid-Afrika toon ‘n beduidende afname in sakevertroue in die landbousektor. Volgens Agbiz is dit op sy laagste vlak sedert die finansiële krisis van 2009. Faktore wat bygedra het tot die afwaartse neiging is swakker boerderytoestande, wat vererger is deur El Niño, uitdagings by hawens en probleme met infrastruktuur en dienslewering. Ten spyte van ‘n effense herstel in ekonomiese toestande sê die hoofekonoom van Agbiz, Wandile Sihlobo, kommer bestaan steeds ten opsigte van uitvoervolumes en geopolitieke spanning wat ‘n uitwerking het op die algehele sentiment.
# Tennis: Novak Djokovic is bemoedig deur sy vordering na ‘n klein knie-operasie minder as drie weke gelede, maar die sewemalige Wimbledon-kampioen sê hy sal volgende maand slegs aan die grasbaan-toernooi deelneem indien hy voel hy kan meeding om die titel. Die 37-jarige het ‘n besering opgedoen tydens die Franse Ope en het voor die kwarteindstryd onttrek en daarna chirurgie ondergaan. Die wêreld nommer twee se enigste nederlaag tydens ‘n Grand Slam-toernooi in 2023 was toe hy by Wimbledon in vyf stelle deur Carlos Alcaraz in die eindstryd verslaan is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-830-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-18-sent per vat.
# Ten slotte: China het die eerste land geword wat monsters van die maan se agterkant suksesvol kon terugbring Aarde toe. Sendings na die maan se agterkant is weens die bergagtige terrein baie moeiliker. SkyNews berig China se maantuig het na die Aarde teruggekeer en in dié land se noordelike Binne-Mongolië-streek geland. Die Chang-tuig het ongeveer seweuur Suid-Afrikaanse tyd geland met maangrond aan boord wat vroeër die maand versamel is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….