Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ekonome verwag inkopiebedrywighede gaan gedemp bly weens die hoë lewenskoste
# Tshwane het die grootste ten volle geakkrediteerde opleidingsprogram vir ambagslui in die land
# En, krieket: Australië klop Bangladesj in ‘n T20 Wêreldbeker-wedstryd onderbreek deur reën
# Ekonome verwag inkopiebedrywighede in Suid-Afrika sal weens die bestaande hoё lewenskoste gedemp bly. Dit volg nadat kleinhandeldata van Statistieke SA ‘n jaar-op-jaar-styging van 0,6-persent in April toon, ‘n daling van die 2,3-persent teenoor die vorige maand. Seisoensaangepaste kleinhandelverkope het in April met 0,5-persent gestyg, in vergelyking met Maart 2023. Die ekonoom van Absa, Sello Sekele, sê laer brandstofpryse het moontlik tot die styging bygedra:
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, sê die stad het die grootste, ten volle geakkrediteerde opleidingsprogram vir ambagslui in die land waar meer as vierduisend jongmense reeds opgelei is. Tshwane het ‘n nuwe groep van 114 studente aan die stad se vaardigheidsopleidingsprogram van drie jaar aan Tshwane se Leierskaps- en Bestuursakademie verwelkom. Brink sê die groep se ouderdom wissel tussen 20 en 25, wat beteken dit is ‘n ware jeugbemagtigingsprogram:
# ‘n Geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir wind wat skade aan die kus van Kaap Agulhas en die Overstrand kan aanrig. ‘n Sterk tot stormsterk weste- tot noordwestewind van 60 tot 80 kilometer per uur kan vanoggend voorkom en tot vanaand duur. Golwe van tot 4,5 meter hoog kan rowwe seetoestande veroorsaak en navigasieprobleme vir klein en private vaartuie veroorsaak en kan dit laat omslaan. Dit kan op plekke ook lei tot ontwrigtings in hawens en op strand-aktiwiteite.
# Krieket: ‘n Driekuns deur Pat Cummins en ‘n blitsige 53 nie uit nie deur David Warner het Australië gister by die T20 Wêreldbeker in Antigua gehelp om Bangladesj met 28 lopies in ‘n Super Agt-wedstryd te klop wat deur reën ontwrig is. Australië wil graag ‘n geskiedkundige driekuns behaal met die Wêreld Toetskampioenskap, die Eendag Wêreldbeker en die T20 Wêreldbeker-titels en is gister volgens die Duckworth-Lewis-formule as oorwinnaars aangewys toe reën spel tot stilstand gedwing het. Die wedstryd tussen Engeland en Suid-Afrika begin om half-vyf vanmiddag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-268-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-364-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-43-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Maatskaplike werker van Kaapstad en student aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Ferah Aysel Güles, is vir die gesogte 2024 Mandela Washington Fellowship gekies. Die beurs is deel van die Young African Leaders Initiative, en gee haar en 39 ander Suid-Afrikaners geleentheid om vir ses weke Amerika toe te gaan vir ʼn intensiewe akademiese kursus en leierskapsopleiding. Sy sluit by die Bridgewater State University in Massachusetts aan by ander jong Afrika-leiers waar sy op openbare bestuur sal fokus. Güles sê sy is opgewonde en dankbaar om vir die geleentheid gekies te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….