Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dawie Roodt verwelkom markverligting te midde van vordering met die regering van nasionale eenheid
# Platform vir watersekerheid in Gauteng lui ‘n nuwe era van hoop in
# En, gholf: Max Homa sal terug wees om sy Nedbank-uitdaging-titel te verdedig
# Die ekonoom Dawie Roodt meen die positiewe vertoning van die Suid-Afrikaanse rand is die gevolg van die markte se verligting oor die uitslag van die onlangse verkiesing. Die rand het tot sy hoogste vlak in byna ‘n jaar gestyg, tot net onder 18-rand teen die dollar. Roodt voer aan die styging is in ooreenstemming met die vordering tot ‘n regering van nasionale eenheid. Hy voeg by onlangse ontwikkelings is ‘n teken van groter ekonomiese optimisme:
# Die uitvoerende hoof van die Rand Water-groep, Sipho Mosai, beklemtoon die platform vir watersekerheid in Gauteng lui ‘n nuwe era van hoop in. Die platform wat deur Sean Phillips van die departement van Water en Sanitasie gelei word, is bedoel om die uitdagings van watersekerheid in die provinsie te takel. Die sakesektor en die Wêreldbank ondersteun die inisiatief en doen ‘n beroep vir gesamentlike optrede vir ‘n beter toekoms. Mosai sê dit belangrik dat almal saamwerk om waterverbruik te verminder ten einde Dag-Zero in Gauteng te verhoed.
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het die Wes-Kaapse Hooggeregshof se finale uitsettingsbevel vir verskeie onwettige bewoners van persele in die Kaapstadse middestad verwelkom. Die burgemeester se woordvoerder, Lyndon Khan, sê ‘n menswaardige oorgangskuiling by die stad se Veilige Ruimtes is steeds vir diegene beskikbaar wat die diens benodig. Khan sê die Balju word toegelaat om enige oorblywende bewoners na 30 Julie uit te sit:
# Die skokkende dood van die Britse TV-aanbieder, Michael Mosley, en minstens vier ander buitelanders in Griekeland is moontlik deur uiters hoë temperature veroorsaak. In sommige gevalle moet die presiese oorsaak van die dood nog bepaal word, maar owerhede waarsku mense om nie die versengende hitte se uitwerking te onderskat nie. Al die slagoffers was op staptogte in hoë temperature. Wetenskaplikes sê dis ‘n waarskuwing teen die uitwerking van uiterste hitte op die liggaam, veral op die brein en besluitnemingsprosesse.
# Gholf: Max Homa sal sy titel in die Nedbank-uitdaging verdedig wanneer ‘Afrika se Major’ weer tradisioneel in Desember by die Gary Player-buiteklub plaasvind. Die wêreld nommer 15 het indrukwekkend met vier houe geseëvier met sy debuut verlede Desember en hy sal daarop uit wees om sy “droomweek” te herhaal wanneer hy weer van 5 tot 8 Desember in aksie is by Sun City. Homa het verlede jaar sy sesde titel op die PGA-toer ingepalm en het die meeste punte verdien met sy debuut in die Ryderbeker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-710-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….