Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA is bekommerd oor Helen Zille se kommentaar oor die Phala Phala-skandaal
# Minister verwelkom ondertekening van die Wetsontwerp op Ekonomiese Regulering van Vervoer
# En, tennis: Die Franse Ope-kampioen, Carlos Alcaraz, het nou die grasbaanseisoen in sy visier
# ActionSA sê dit lyk asof die DA sy belofte terugtrek om president Cyril Ramaphosa aanspreeklik te hou vir die Phala Phala-skandaal. Athol Trollip van ActionSA het gereageer op die DA se Federale raadsvoorsitter, Helen Zille, se opmerking oor die DA wat nie sal stem vir ‘n ampsklag teen ‘n president waarvoor hulle gestem het nie, tensy nuwe bewyse na vore kom. Trollip sê die Konstitusionele Hof sal binnekort ‘n aansoek aanhoor wat die ANC se gebruik van hul parlementêre meerderheid betwis, om die aanvaarding van die Onafhanklike Paneelverslag rondom die skandaal te verwerp:
# Die minister van Vervoer Sindisiwe Chikunga verwelkom president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wetsontwerp op Ekonomiese Regulering van Vervoer. Die woordvoerder van die Departement Collen Msibi sê dit sal toesig hou oor pryse, klagtes ondersoek en voldoening afdwing vir ‘n regverdige en mededingende vervoerbedryf. Msibi sê die Raad op Ekonomiese Vervoer sal ‘n appèlliggaam wees oor besluite van die Reguleerder:
# Die nuutverkose premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, word vandag by die Woodburn Rugbystadion in Pietermaritzburg ingehuldig. Ntuli is die provinsiale voorsitter van die IVP en is Vrydag met die steun van die ANC, IVP, DA en die National Freedom Party verkies en het daarmee die kandidaat van die MK-party, Inkosi Phathisizwe Chiliza, verslaan. Die woordvoerder van die IVP, Mkhuleko Hlengwa, is oortuig Ntuli sal sy mandaat van die party kan uitvoer:
# Minstens elf migrante is dood en meer as 60 word vermis nadat twee bote aan die suidelike kus van Italië gesink het. Die Duitse liefdadigheid, RESQSHIP, sê hy het Maandag 51 mense van ‘n sinkende houtboot gered. In ʼn ander voorval is meer as 60 mense as vermis aangemeld waarvan 26 vermoedelik kinders is. Die bote het migrante uit Libië en Turkye aan boord gehad. Volgens VN-inligting is meer as 23-duisend-500 migrante sedert 2014 in die Middellandse See dood of word vermis.
# Tennis: Die Franse Ope-kampioen, Carlos Alcaraz, het sy visier op nog grasbaan-suksesse ná sy eerste titel op klei by Roland Garros. Die 21-jarige het met sy oorwinning van vyf stelle oor Alexander Zverev Sondag in Parys, die jongste manspeler geword om Major-titels op al drie oppervlaktes te wen. Hy is die verdedigende kampioen by Wimbledon en het sy oog op verlede jaar se dubbelsege by Queen’s Club en die grasbaan Grand Slam. Alcaraz begin vandag sy Queen’s Club-veldtog teen Argentinië se Francisco Cerundolo.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-622-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….