Nuus 12:00
BULLETIN 28 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê werksgeleenthede in motorvervaardiging moet beskerm word te midde van Amerikaanse tariewe
# Fietsry: Pogačar word geprys as een van die bestes nadat hy die Tour de France die vierde keer wen
# En die Suid-Afrikaanse superster Tyla gaan in Central Park optree
# President Cyril Ramaphosa sê die beskerming van bestaande werksgeleenthede in die motorvervaardigingsektor is van die grootste belang, veral in die lig van die dreigende Amerikaanse tariewe van 30-persent vanaf Vrydag. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief strenger regulasies oor die vrystelling van uitlaatgasse en die verwagte tariewe sal ‘n beduidende uitwerking op die sektor hê. Ramaphosa sê die plaaslike motorbedryf doen daarom die nodige belegging om veerkragtigheid te bou, werksgeleenthede te beskerm en die weg te baan na ‘n nuwe era van groen beweeglikheid.
# Die Vereniging van Staatsamptenare versoek die Nasionale Jeug-ontwikkelingsagentskap se nuwe raad om onmiddelik aandag te skenk aan beweerde swak bestuur, nepotisme, magsmisbruik en finansiële wanbestuur, sowel as om gevolgsbestuur te verseker. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naiker, sê die raad moet ook verseker dat die agentskap tasbare programme ontwikkel om die uitdagings waarmee die jeug worstel uit die weg te ruim:
# Die Vryheidsfront Plus in Kaapstad beskuldig die metro van growwe nalatigheid omdat hy getalm het met ‘n skadevergoedingseis vir die Kaapstad-stadion se dak. Die party sê die metro het sedert 18 November 2015 van die skade geweet wat aan die lig gekom het toe Cell C toerusting aangebring het. Pieter Jansen van Vuuren van die VF Plus sê die metro het egter eers drie jaar later ʼn eis vir skadevergoeding aan Cell C gestuur:
# Fietsry: Die heersende kampioen, Tadej Pogačar, het sy vierde Tour de France-titel gebuit en sy status bevestig as een van die beste fietsryers van sy geslag. Die Sloween kon egter nie die laaste skof wen nie nadat die Belg, Wout van Aert eerste oor die wenstreep is in die Champs-Élysées in Parys. Die tweemalige wenner, Jonas Vingegaard van Denemarke, was vier-minute-24-sekondes stadiger as Pogačar, met die Duitser, Florian Lipowitz, derde. Pogačar sê hy besef hy kan nie vir ewig meeding nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-en-70-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-96-sent per vat.
# En laastens, die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse ster, Tyla, tree in September op op die 2025 Global Citizen-fees op Central Park se groot grasperk in New York. Die hoofkunstenaars is The Weeknd en Shakira. Ayra Starr van Nigerië en Mariah the Scientist tree ook op. Vanjaar se geleentheid plaas Afrika-stemme in die kollig op die verhoog en ook deur voorspraakveldtogte soos dié wat toegang tot energie wil voorsien aan ‘n miljoen mense op die vasteland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….