Nuus 12:00
BULLETIN 5 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kodwa is in hegtenis geneem en verskyn in die hof op korrupsie-aanklagte
# Fitch waarsku teen ‘n ANC-EFF-MK-koalisieregering
# En, motorsport: Sergio Perez gaan tot 2026 vir Red Bull jaag
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, is in hegtenis geneem en verskyn vandag in die Landdroshof in Palm Ridge in Gauteng. Dit volg nadat hy na bewering 1,6-miljoen-rand se omkoopgeld ontvang, en voordeel getrek het uit luukse verblyf, lenings en ander gunste van EOH terwyl die maatskappy getender het vir regeringskontrakte. Kodwa het erken hy het betalings en luukse verblyf ontvang van EOH se hoof, Jehan Mackay, maar ontken dit het te doen gehad met tenders.
# Die graderingsagentskap Fitch waarsku Suid-Afrika se skuldtrajek sal bykomende risiko’s ondervind as die ANC op die ondersteuning van die EFF of die MK-party gaan staatmaak. Die ANC kon nie ‘n volstrekte meerderheid in die verkiesing behaal nie en sal ʼn regering met opposisiepartye moet vorm. Fitch sê ʼn ANC-EFF-MK-koalisie sal na verwagting beleggersvertroue verswak of staatsbestuur vernietig. Hy voeg by indien die DA die ANC ondersteun, sal dit moontlik die minste verandering bring aan belangrike kredietmaatstawwe.
# Die Departement van Justisie verwelkom ‘n verslag deur die kantoor van die Openbare Beskermer wat wys op administratiewe mislukkings in die hantering van sake van geslagsgeweld. Woordvoerder Chrispin Phiri sê die verslag gee aandag aan kommer oor die behandeling van vroue wat die hof se bystand versoek. Phiri beklemtoon die noodsaaklikheid van geregtigheid vir die slagoffers van geslagsgeweld, insluitende elektroniese beskermingsbevele. Hy benadruk die belangrikheid van regstellende stappe om oorlewendes van geslagsgeweld beter te beskerm en te ondersteun:
# Motorsport: Red Bull het Sergio Perez se kontrak met twee jaar verleng, en hy sal nou tot aan die einde van die 2026-seisoen by dié Formule Een-span aanbly. Die 34-jarige Mexikaan het hom in 2021 by die wêreldkampioen aangesluit vanaf Racing Point, nou Aston Martin. Perez het verlede seisoen ‘n loopbaan-beste tweede plek in die bestuurderskampioenskap behaal ná sy spanmaat, Max Verstappen, en Red Bull gehelp het om hulle eerste een-twee-uitslag asook die vervaardigerstitel te beklink.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-67-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte, dit is vandag Wêreld-omgewingsdag, en SANParke sê die Addo-olifantpark buite Gqeberha in die Oos-Kaap maak vordering om sy uitwerking op die omgewing te bekamp. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê verskeie sonkrag-projekte is die afgelope maande in Addo aangepak en ʼn bio-filtreerstelsel herwin tot 80-persent van sy besigste kamp se gryswater:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….