Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die setelberekeningsproses sal begin sodra die verkiesingsuitslae afgehandel is
# Die OVK is die enigste instelling met die regsmandaat om die verkiesingsuitslae aan te kondig
# En, tennis: ‘n Verbod word geplaas op sterk drank op die pawiljoene by die Franse Ope na opruiende gedrag
# Die Verkiesingskommissie het aangekondig die setelberekeningsproses sal begin sodra alle verkiesingsuitslae vasgelê en afgehandel is. Dit behels die akkuraatheid en nagaan van uitslae deur skandering, dubbele vaslegging en ouditering deur onafhanklike ouditeure. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê die nuwe openbare verteenwoordigers sal bepaal word, en die lys sal aan die hoofregter oorhandig word sodra die seteltoewysing voltooi is:
Die regering sê intussen die Verkiesingskommissie is die enigste instelling wat ‘n wetlike mandaat het om die verkiesingsuitslae aan te kondig, dus moet mense versigtig wees om die uitslae voortydig bekend te maak. Die regering se woordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê die OVK is deursigtig met die manier waarop die uitslae aangeteken en bevestig word om te verseker die integriteit van die verkiesingsproses is bo verdenking.
Nadat net meer as 59-persent van die stemme getel, is die ANC nasionaal steeds voor met 41,88-persent. Die DA is tans tweede met 23,22-persent en die MK-party derde met 11,52-persent. In Gauteng loop die ANC voor met 33,57-persent, gevolg deur die DA met 29,31 en die EFF met 12,55. In die erg betwiste KwaZulu-Natal is MK op 43,95-persent, die ANC tweede met 18,98 en die IVP op 15,42. In die Wes-Kaap loop die DA voor met 52,85-persent van die stemme, gevolg deur die ANC met 20,41-persent en die Patriotic Alliance met 8,96-persent.
# BetterBond sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers weer onveranderd te laat, was te wagte maar is ‘n bitter pil vir verbruikers. Die bank het die terugkoopkoers op 8,25-persent gelaat en handelsbanke se prima-uitleenkoers bly 11,75-persent. BetterBond se uitvoerende hoof, Bradd Bendall, sê die onverwagte bestendiging van inflasie het die hoop laat opvlam dat die Reserwebank ʼn langverwagte daling in rentekoerse sal aankondig:
# Tennis: Die organiseerders van die Franse Ope het ‘n verbod op die gebruik van sterk drank op pawiljoene aangekondig om opruiende gedrag te keer. Dit volg nadat die Belg David Goffin Maandag uitgejou is na sy oorwinning oor die plaaslike speler Giovanni Mpetshi Perricard, en die wêreld se nommer-een vrouespeler, Iga Swiatek, gister die skare gevra het om tydens houespel stil te bly. Die toernooidirekteur, Amelie Mauresmo, sê skeidsregters sal ook toeskouers strenger hanteer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-226-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-340-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….