Nuus 12:00
BULLETIN 30 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC loop voor in voorlopige nasionale verkiesingsuitslae
# Rentekoerse sal waarskynlik langer hoog bly
# En, rugby: Die Blitsbok-kaptein is optimisties oor hulle kanse in Madrid
# Voorlopige uitslae van die Verkiesingskommissie toon die ANC loop tans voor met 42,48-persent nadat 16,65-persent van die stemme getel is. Die DA volg met 25,76-persent en die EFF het 8,5-persent. Die MK-party en die Patriotic Alliance is onder die top vyf nasionaal, met onderskeidelik 8,01- en 4,43-persent.
Intussen vertrou die ANC-voorsitter in Gauteng, Panyaza Lesufi, die party sal baie mense verras te midde van bespiegelinge oor ‘n moontlike koalisieregering. Hy het dié bespiegelinge verwerp. Lesufi glo die party se pogings sal vrugte afwerp, ten spyte van sterk mededinging. Die ANC mik vir 60-persent in Gauteng teenoor 50,1-persent in 2019. Lesufi het die veldtog se uitdagings en party se veerkragtigheid beklemtoon. Hy het die behoefte benadruk aan ʼn nuwe benadering om dringende kwessies in die provinsie aan te pak.
# Verbruikers sal waarskynlik langer gebuk gaan onder hoë rentekoerse aangesien die Reserwebank koerse na verwagting onveranderd sal hou op vandag se vergadering. Hoewel inflasie binne die drie- tot ses-persent-teikenband val, neem dit tyd om die doelwit van 4,5-persent te bereik. Die uitvoerende hoof van Everest Wealth, Thys van Zyl, sê voortslepende inflasierisiko’s en verkiesingsonsekerhede is van die redes waarom geen onmiddellike koersverlagings verwag word nie. Hy meen beduidende verlagings kan dalk eers volgende jaar plaasvind. Van Zyl sê verbruikers ondervind druk weens stagnante lone, stygende lewenskoste en hoë skuld-terugbetalings.
# Die vakbond Solidariteit beskuldig die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling van rasse-vooroordeel in subsidiebetalings aan welsynsorganisasies. Solidariteit veroordeel die nie-betaling van fondse en eis dringende optrede om die krisis aan te pak, veral in Gauteng. Die vakbond het verlede week klagtes ontvang van organisasies aan wie subsidies beloof is, maar wat nie betaal is nie. Bianca Smit van Solidariteit waarsku die uitwerking van onbetaalde subsidies strek verder as welsynsorganisasies, en pogings om die samelewing te verbeter, word uiters negatief geraak:
# Rugby: Die Blitsbokke se kaptein, Selvyn Davids, sê hulle is optimisties oor hulle vooruitsigte in die naweek se Grand Finale van die Sewesreeks in Spanje. Slegs die top agt mans- en vrouespanne sal in Madrid meeding. Na sewe rondes is Argentinië en Nieu-Seeland die onderskeie mans- en vroue-ligawenners, voor die nuwe alleenstaande toernooi in die Spaanse hoofstad. Suid-Afrika speel sy groepswedstryde teen Ierland, Nieu-Seeland en Fidji. Davids sê hulle vertoning in die laaste twee toernooie gee hulle selfvertroue:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-185-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….