Nuus 12:00
BULLETIN 22 Mei 12 nm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum is in besit van die dossier oor Mbalula se gesinsvakansie in Dubai
# Kaapse Forum eis dat die nuwe Parlement ernstig raak oor referendum-wetgewing
# En, rugby: Die Springbok-heelagter Damian Willemse is vir vier maande op die kantlyn
# AfriForum se privaat vervolgingseenheid het die polisiedossier oor die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, se gesinsvakansie in Dubai in 2016 bekom. Die voormalige openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het bevind Mbalula het die Grondwet oortree deur ‘n verskaffer van die sportkonfederasie, Saskok, te vra om te help betaal vir die reis toe hy die minister van Sport was. Die Nasionale Vervolgingsgesag wou nie vervolg nie. Barry Bateman van die eenheid sê hulle is nou meer oortuig daar is ‘n saak teen Mbalula:
# Kaapse Forum eis dat die nuwe Parlement wat ná die nasionale verkiesing saamgestel word, ‘n vroeëre besluit van die Konstitusionele Hof instel wat provinsiale referendums sal toelaat. Die uitvoerende voorsitter, Heindrich Wyngaard, sê hulle sal nie rus voordat die wetgewing gewysig is om uitdrukking te gee aan die grondwetlike riglyn in Artikel 127 nie. Hy sê hulle het ʼn versoek aan die Parlement gerig:
# Die Instituut vir Mediese Geregtigheid sê dis duidelik groot farmaseutiese maatskappye sal gesondheids-noodsituasies uitbuit om regerings te dwing om onredelike ooreenkomste te aanvaar om lewensreddende medisyne te bekom. Die instituut het sy tweede verslag bekendgemaak oor die Gesondheidsdepartement se voorheen geheime Covid-19-ooreenkomste. Die drukgroep sê volgens die dokumente het die regering sonder welslae teëgeskop teen baie voorwaardes wat Pfizer gestel het. Die instituut sê Suid-Afrika is uiteindelik gedwing om ʼn premie te betaal en die risiko te loop van vertragings of skade.
# Rugby: Die Stormers en Springbokke gaan vier maande sonder die veelsydige agterspeler Damian Willemse moet klaarkom. Hy het sy vingerligamente beseer tydens die oorwinning oor Connacht, wat die Stormers ‘n plek in die uitspeelronde van die Verenigde Rugbykampioenskap besorg het. Hy sal na verwagting môre ‘n operasie ondergaan. Willemse sal die res van die VRK-seisoen, die Springbokke se toetse in Junie en Julie, en die Rugby-kampioenskap misloop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-902-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-412-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte, Elvis Presley se kleindogter voer ‘n regstryd om te voorkom sy beroemde herehuis word verkoop. Riley Keough beweer die handtekening van haar oorlede ma, Lisa Marie Presley, is vervals op ‘n dokument van ‘n leningsonderneming wat beweer sy het Graceland as aanvullende sekerheid aangebied vir ‘n lening van 68-miljoen-rand, wat nooit terugbetaal is nie. Keough wil met die regsaansoek keer dat môre se veiling voortgaan. Die herehuis in Memphis, Tennessee, waar Elvis begrawe is, is in 2006 tot nasionale geskiedkundige landmerk verklaar. Keogh is die enigste eienaar en trustee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….