Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nywerheidsgasverbruikersvereniging sê dapper besluite is nodig om gasvoorsiening te verseker
# Die EFF vra aanspreeklikheid vir die dood van ‘n man wat glo in ‘n koelkamer in Shoprite toegesluit is
# En, krieket: Kolkata Knight Riders en Sunrisers Hyderabad spook vandag sake uit in die eerste IPL-kwalifiseerder
# Die Nywerheidsgasverbruikersvereniging sê dapper, maar goedeurdagte besluite is nodig om so gou moontlik in gasenergie in Suid-Afrika te belê. Dit volg te midde van Sasol se beoogde verlaging in gasproduksie teen 2026. Dit kan tot ‘n potensiële gaskrisis lei en die land se ekonomie tot 500-miljard-rand per jaar kos. Jaco Human van die vereniging sê natuurlike gasoordrag ondersteun die land se program om van steenkool ontslae te raak:
# Die EFF in Gauteng eis aanspreeklikheid vir die dood van ‘n man by ʼn Shoprite-supermark in Ratanda, Heidelberg. Die 33-jarige Bandile Tshabalala is dood nadat die winkelbestuurder hom volgens berigte in ʼn koelkamer toegesluit het nadat hy ʼn sjokoladestafie gesteel het. Die polisie ondersoek die voorval. ʼn EFF-woordvoerder, Dumisani Baleni, sê die winkelbestuurder moet van moord aangekla word:
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, beskryf die aanklaer van die Internasionale Strafhof se aansoek vir lasbriewe om Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, en sy minister van Verdediging, Yoav Gallant, in hegtenis te neem, as verregaande. Die hof se hoofaanklaer, Karim Khan, versoek ook lasbriewe vir die inhegtenisneming van drie Hamas-leiers. Dit is vir vermeende oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Israel en Gaza. Biden sê Israel doen alles in sy vermoë om burgerlikes te beskerm:
# Krieket: Die eerste kwalifiserende wedstryd van die Indiese Premierliga word vandag gespeel. Kolkata Knight Riders en Sunrisers Hyderabad, wat eerste en tweede op die punteleer geëindig het, pak mekaar in Ahmedabad. Die wenner dring deur na Sondag se eindstryd in Chennai. Die verloorder kry nog ‘n kans op die titelwedstryd in Vrydag se tweede kwalifiseerder in Chennai. Daardie span speel teen die wenner van môre se uitklopstryd tussen die derde en vierde spanne, Rajasthan Royals en Royal Challengers Bengaluru, ook in Ahmedabad.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-45-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-87-sent per vat.
# Ten slotte: McDonald’s Suid-Afrika het vreugde gebring vir die inwoners van die Andries Meyer-aftreeoord in Eldoradopark, Gauteng, as deel van die Together Mzansi-gemeenskapsprojek. Die inwoners se hare is gratis gesny en hulle het middagete en koffie ontvang. Die bemarkingshoof van McDonald’s SA, Daniel Padiachy, sê hul doelwit strek verder as om heerlike kos te bedien en daarom wil hulle ‘n betekenisvolle bydrae lewer wat mense landwyd kan bemagtig en ophef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….