Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa simpatiseer nadat ‘n gebou op George intuimel
# Minister Zizi Kodwa sê die DA se vlagbrand-advertensie beledig SA se simbool van eenheid
# En, sokker: Erik Ten Hag glo steeds hy is die persoon wat Manchester United kan regruk
# President Cyril Ramaphosa het sy simpatie betuig met die familie en vriende van die vyf werkers wat dood is toe ‘n gebou in George in die Suid-Kaap ingetuimel het. Vyf-en-sewentig bouwerkers was op die perseel toe die vyfverdieping-woonstelgebou gistermiddag meegegee het. Nege-en-veertig mense is nog onder die puin vasgekeer. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president het beklemtoon ʼn deeglike ondersoek moet ingestel word om soortgelyke tragedies in die toekoms te voorkom:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, is geskok oor die DA se politieke advertensie waarin Suid-Afrika se vlag brand. Hy veroordeel dit as aanstoorlik en beledigend, en sê die vlag verteenwoordig die land se eenheid, vooruitstrewendheid en demokrasie. Hy kritiseer die DA-leiers vir hulle desperaatheid en roekeloosheid, en sê pogings om Suid-Afrikaners met die vlag te verdeel sal nie slaag nie. Die ministerie se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê die vlag behoort nie gebruik te word om verdeeldheid te saai nie:
# Die moord op drie buitelandse toeriste in Ensenada, Meksiko, het vrees en woede uitgelok in ‘n streek wat altyd as veilig beskou is ondanks die dwelmoorloë in die staat Baja California. Die liggame van die Australiese broers Jake en Callum Robinson en hulle Amerikaanse vriend, Jack Carter Rhoad, is aangetref nadat hulle tydens ‘n brandderry-besoek verdwyn het. Die plaaslike owerhede glo hulle is vermoor deur mense wat hulle voertuig se bande probeer steel het. Plaaslike inwoners het die strate ingevaar na die ontdekking, en eis veilige strande.
# Sokker: Manchester United se bestuurder, Erik ten Hag, glo steeds hy is die regte persoon om die klub reg te ruk. Die Reds het gisteraand op Selhurstpark vier-nul teen Crystal Palace verloor. United is na die nederlaag agste in die Premierliga en is uit wat Europese plekke betref. Ten Hag sê ondanks tien eerstespanspelers wat weens beserings buite aksie is, is dit duidelik dat die span onderpresteer:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-827-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Die Loskopdam-natuurreservaat in Mpumalanga het met ʼn baanbrekerprojek begin om wild te hervestig. Die doel is om verlore spesies terug te bring en ʼn ekotoerisme-toevlugsoord te skep. Die projek word gelei deur die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap en die Aspinall-stigting. Die projek sal minstens 120-miljoen-rand vir die reservaat en omliggende gebiede beskikbaar stel. ʼn Woordvoerder van die stigting, Dereck Milburn, sê hulle het besluit om die streek se bewarings- en ekonomiese potensiaal te ontsluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….