Nuus 12:00
BULLETIN 7 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa proklameer die datum vir die plaaslike regeringsverkiesing
# Nasionale Tesourie en ‘n Asiatiese bank teken ‘n leningsooreenkoms van agt-miljard-rand om volhoubare infrastruktuur te ondersteun
# En rugby: Die Puma-losskakel Tomás Albornoz loop die Springbok-wedstryd mis ná ‘n onderonsie met ‘n skeidsregter
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het 4 November amptelik geproklameer in die Staatskoerant as die datum vir die plaaslike regeringsverkiesing. Hy het met die SABC gepraat en burgers versoek om te registreer voor die kieserslys om middernag sluit. Hlabisa moedig gemeenskappe aan om die stembus te gebruik om raadslede aanspreeklik te hou, aangesien dit beter dienslewering kan afdwing en plaaslike demokrasie kan versterk:
Die Inkatha-Vryheidsparty moedig kwalifiserende Suid-Afrikaners aan om vandag nog te registreer om te stem. Woordvoerder Mkhuleko Hlengwa sê deur te registreer, bevestig landsburgers dat demokrasie nie net ʼn grondwetlike reg is nie, maar ʼn verantwoordelikheid:
# Suid-Afrika het ‘n leningsooreenkoms van agt-miljard-rand onderteken met die Asiatiese Infrastruktuur-beleggingsbank om klimaatsbestande stedelike dienste te versterk. Die Nasionale Tesourie sê die fonds is geoormerk binne ‘n streng prestasieraamwerk om stedelike stelsels teen klimaat-skokke soos oorstromings of droogtes en basiese dienslewering te verbeter. Die Tesourie sê plaaslike munisipaliteite en metro’s beskik dikwels nie oor die kredietgraderings wat nodig is om groot bedrae buitelandse valuta op hul eie te leen nie. Die regeringsgewaarborgde lening oorbrug hierdie gaping.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het twee nuwe uitvoerende opdragte onderteken wat behels dat kinders nie outomaties Amerikaanse burgerskap kry nie deur sogenaamde geboorte-toerisme te verbied. Die Hoërhof het verlede maand sy poging verwerp om geboortereg-burgerskap te beëindig. Die Migrasiebeleid-instituut reken tussen 22- en 26-duisend babas word jaarliks in Amerika gebore as geboorte-toerisme. Trump sê die opdrag ontneem geboortereg-burgerskap van kinders wie se ouers bedrog gepleeg het om burgerskap te verkry:
# Rugby: Die Argentynse losskakel Tomás Albornoz sal môre se eenmalige toets teen die Springbokke in Buenos Aires misloop nadat hy vir vier wedstryde geskors is. Hy het verlede maand die Australiese skeidsregter Angus Gardner gekonfronteer tydens die ontstuimige Nasieskampioenskaps-tuiswedstryd teen Engeland. Een van sy afrigters en ‘n spanmaat moes Albornoz terughou nadat Gardner laat in die wedstryd nie ‘n drie toegeken het wat ‘n gelykopuitslag vir Argentinië kon verseker nie. Albornoz sal ook Los Pumas se twee toetse teen Australië misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-403-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-299-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 86-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….