Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra die OVK en die polisie om bewerings teen die MK-party te ondersoek
# Uhuru Kenyatta gaan ‘n waarnemingsending in Suid-Afrika se verkiesing lei
# En, die brand op Tafelberg is steeds nie onder beheer nie
# Cosatu vra die Verkiesingskommissie en die polisie om bewerings van vervalsing teen die MK-party te ondersoek. Die party het skynbaar vervalste handtekeninge voorgelê om te voldoen aan die vereiste vir die benoeming van kandidate. ‘n Strafregtelike klag is by die polisie ingedien. Matthews Parks van Cosatu sê baie partye en kandidate is gediskwalifiseer weens te min handtekeninge. Hy sê indien die bewerings waar is, is dit ‘n enorme skending van die land se wette:
Intussen het die Afrika-unie-kommissie oudpresident Uhuru Kenyatta van Kenia aangewys om ‘n span waarnemers te lei wat die Suid-Afrikaanse verkiesing gaan monitor. Die span bestaan uit 60 korttermynwaarnemers en drie kernspan-verkiesingskenners. Hulle sal die verkiesing van 21 Mei tot 3 Junie waarneem. Die span se basiese mandaat is om onpartydig oor die verkiesing verslag te doen en die gehalte van die stemmery te assesseer.
# Die Stad Kaapstad se rampbestuursentrum sê die brand wat Sondagoggend vroeg ontstaan het, is steeds aktief en sigbaar op Tafelberg. Die vuur is steeds hoog teen die berg in die Oranjekloof- en Fernwood-area, maar ver van eiendomme af. Die woordvoerder van die stad se Brand- en Reddingsdiens, Jermaine Carelse, sê hulle kan steeds nie by die brand op die laer hange by Kirstenbosch uitkom nie:
# President Cyril Ramaphosa het eer betoon aan die bydraes van die stigterslid van die National African Federated Chamber of Commerce and Industry, doktor Samuel Motsuenyane. Die 97-jarige Motsuenyane is gister oorlede. Hy is die vader van swart ondernemings genoem vanweë sy groot rol om swart besigheidsleiers en entrepreneurs onder sy vlerk te neem en etiese besigheidspraktyke te verkondig. Ramaphosa sê Motsuenyane se merkwaardige lewe as entrepreneur, leier van georganiseerde besigheid, parlementslid en diplomaat het die land se beeld en waardes van ubuntu weerspieël.
# Boks: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het hulde gebring aan Suid-Afrika se bokslegende, Dingaan Thobela, en sê hy het die nasie en toekomstige boksers besiel. Hy is op 57 jaar by sy huis in Johannesburg dood. Die Roos van Soweto se boksloopbaan het 16 jaar geduur en hy het drie wêreldtitels in twee gewigsafdelings gebuit. Kodwa se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Thobela het deur sy boks-sukses baie bygedra tot Suid-Afrikaanse sport:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-132-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-317-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….