Nuus 12:00
BULLETIN 12 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementêre komitee eis tasbare gevolge ná leefstyloudits in die Staatsdiens
# Die Departement van Basiese Onderwys sê die matriekeksamen vorder goed
# En swem: Matthew Sates kan Tatjana Smith se voorbeeld volg en ‘n ander land verteenwoordig
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor die Staatsdiens en Administrasie vra tasbare bewyse dat leefstyloudits tot dissiplinêre stappe en strafregtelike vervolging lei indien wangedrag of korrupsie bepaal word. Die komitee het voorleggings ontvang van Openbare Werke en Infrastruktuur, Menslike Nedersettings, Gesondheid, Water en Sanitasie, Binnelandse Sake en Landbou. Voorsitter Jan de Villiers sê om openbare vertroue te herstel moet departemente bewys wangedrag word met gepaste dissiplinêre maatreëls gestraf en, indien nodig, met strafregtelike stappe:
# Die Departement van Basiese Onderwys sê die matriekeksamen vorder goed, en voorbereiding vir die nasienproses het begin. Nasiensentrums sal na verwagting tussen die 26ste en die 28ste van hierdie maand oopmaak en nasienwerk sal op 1 Desember begin. Woordvoerder Terence Khala sê kandidate moet bedag wees op weersomstandighede wat moontlik ontwrigting kan veroorsaak en tot afwesigheid kan lei. Hy sê leerders moet gefokus bly en die eksamen se integriteit handhaaf:
# Die Afrika Mayibuye-beweging veroordeel Suid-Afrika se volgehoue hoë werkloosheidsvlakke en sê rasse-ongelykhede in indiensneming bly onaanvaarbaar hoog. Die amptelike werkloosheidsyfer was in die derde kwartaal effens hoër op 33,7-persent, volgens die Kwartaallikse Arbeidsmag-opname. Die beweging sê die werkloosheidskrisis is gewortel in die geskiedkundige ekonomiese onregte van kolonialisme en apartheid. Hy sê die ekonomiese uitsluiting van die Afrika-meerderheid en ander onderdrukte gemeenskappe bly grootliks onopgelos, ongeag politieke vryheid.
# Die brandweer van die Amerikaanse stad New York beskryf die reddingspogings nadat ‘n gebou ingetuimel het as uiters gevaarlik. Minstens twee mense is dood en 17 beseer toe die drieverdieping-gebou vir gemengde gebruik op ‘n oop bouterrein in Flatbush-laan, Brooklyn, ingetuimel het. Die departement se kommissaris, Lillian Bonsignore, sê minstens sewe kinders is onder die slagoffers:
# Swem: Die voormalige kortbad-wêreldkampioen Matthew Sates van Suid-Afrika is volgens berigte op die punt om Australië te verteenwoordig nadat hy verblyfreg in die land bekom het. Die 23-jarige, wat Suid-Afrika verteenwoordig het in die Olimpiese Spele in Tokio in 2021 en drie jaar later in Parys, wil beter finansiële geleenthede hê. Dit volg nadat die viermalige Olimpiese medaljewenner Tatjana Smith aangekondig het sy gaan voortaan vir Nederland deelneem. Sates, wat verskeie kortbad-rekords hou, insluitend in die 200-meter vryslag, het reeds saam met die Australiese span geoefen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-511-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-956-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….