Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrikaners bly veerkragtig ten spyte van groot probleme
# Malema waarsku EFF-raadslede wat onwettig grond verkoop sal geskors word
# En, rugby: Glasgow Warriors vervang Leinster bo-aan die VRK-punteleer
# President Cyril Ramaphosa sê die land gaan steeds onder baie probleme gebuk, maar sy inwoners is ten spyte daarvan baanbrekers, vindingryk en veerkragtig. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief hy is bemoedig dat jong Suid-Afrikaners selfversekerd is oor hulle menseregte, burgerskap, hul rol en plek in die samelewing en hulle potensiaal. Ramaphosa sê die regering is vasbeslote om die vry, regverdige en gelyke Suid-Afrika te skep waarvoor miljoene 30 jaar gelede op Vryheidsdag gestem het.
# Die EFF-leier, Julius Malema, het gewaarsku, party-raadslede wat skuldig bevind word dat hulle grond onwettig aan inwoners in Gauteng verkoop het, sal uit die party geskors word. Hy het gister die gemeenskap van Tembisa in Ekurhuleni toegespreek, as deel van die party se veldtog voor volgende maand se verkiesing. Malema het ook herhaal dat die EFF grond sonder vergoeding sal onteien, indien die party die verkiesing sou wen:
# Minstens vier mense is dood en talle is beseer nadat verskeie tornado’s verwoesting gesaai het in Oklahoma in die Verenigde State. Daar is groot skade in die dorp Sulphur, met platgevalde geboue, voertuie wat in die lug geslinger is, en huise se dakke wat afgeruk is. Oklahoma se goewerneur, Kevin Stitt, sê ‘n vier maande oue baba is dood. Hospitale regoor die staat het nagenoeg 100 beserings aangemeld, insluitend mense wat skynbaar deur stukke puin getref is.
# Rugby: Glasgow Warriors is die nuwe voorlopers op die VRK-punteleer, nadat hulle Leinster verbygesteek het. Leinster is nou slegs een punt voor die heersende kampioen, Munster, wat agtereenvolgende bonuspunt-oorwinnings in Suid-Afrika behaal het deur die Bulle en die Leeus te klop. Die Bulle lei die Suid-Afrikaanse spanne op die punteleer in die vierde plek, die Stormers is vyfde, die Leeus elfde, en die Sharks in die 13de plek onder die 16 spanne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-260-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-336-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-62-sent per vat.
# Kenners voorspel ‘n warm winter vir ‘n groot deel van Suid-Afrika, weens die voortslepende El Niño-klimaatspatroon. El Niño-verwante klimaat word gekenmerk deur bo-gemiddelde temperature en baie laer reënval gedurende die November-April-seisoen. ‘n Klimaatwetenskaplike, Peter Johnston, het aan die SABC gesê verwagtinge vir die land dié winter sal hoër temperature en minimum reënval in sommige streke insluit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….