Nuus 12:00
BULLETIN 25 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Raad vir die bevordering van die Grondwet wil by die OVK se appèlaansoek in die Konstitusionele Hof aansluit
# Thabo Mbeki voer vandag ‘n veldtog vir die ANC in Soweto
# En Kaapstad is trots op sy seekoei-troppie in Valsbaai
# Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet het by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen om as vriend van die hof aan te sluit in die Verkiesingskommissie se appèlsaak. Die OVK sê die Verkiesingshof se beslissing dat oudpresident Jacob Zuma ‘n setel in die Parlement mag betwis, moet tersyde gestel word. Die raad se woordvoerder, Lawson Naidoo, sê ten spyte van die Konstitusionele Hof se beslissing in Junie 2021 dat Zuma 15 maande tronk toe moet gaan, word hy nie tans verbied om as parlementslid gekies te word nie.
Die voormalige president van die ANC, Thabo Mbeki, voer vandag ‘n verkiesingsveldtog vir die regerende party in Soweto, Gauteng. Die ANC het sy swaargewigte begin inspan om sy veldtog voor volgende maand se algemene verkiesing te versterk. Kgalema Motlanthe, David Mabuza, Phumzile Mlambo-Ngcuka en Baleka Mbete sal na verwagting ook steun werf vir die party. Mbeki is geskeduleer om White City in Jabavu en die Jabulani Mall te besoek.
# Die Globale Veldtog teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad sê afpersing versprei vinnig deur Kaapstad en die betrokke groepe is hoogs georganiseerd. Die organisasie sê hy het in sy jongste verslag op vier hoof-afpersings-ekonomieë gefokus, naamlik ondernemings in die middestad wat snags bedrywig is, Kaapstad se boumafia, die vervoersektor en township-ondernemings. Die organisasie sê as afpersings-ekonomieë eers gevestig is, is dit uiters moeilik om te hanteer.
# Gholf: Die viermalige Major-wenner, Rory McIlroy, sê hy is gewillig om na die PGA Toer se beleidsraad terug te keer. Hy het in November bedank weens kommer oor die tyd en energie wat hy aan die rol bestee. Die Noord-Ierse speler kan Webb Simpson vervang wat volgens berigte sy bedanking ingedien en versoek het dat die gewese wêreld-nommer-een sy plek inneem. McIlroy sê hy kan help om onderhandelings oor samesmelting tussen die PGA-toer en LIV Gholf te versnel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-9-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-988-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-328-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad sê hy het sy eie trop seekoeie wat sedert 1981 in die Rondevlei-gedeelte van die Valsbaaise natuurreservaat gevestig is. Dié klein familie seekoeie het oor die afgelope vier dekades ‘n kritieke en baie spesiale deel van die vleiland-ekologie geword. Die burgemeesterskomiteelid vir Ruimtelike Beplanning en die Omgewing, Eddie Andrews, sê in die natuur bestaan seekoei-troppe uit ongeveer tien tot 15 diere, met ‘n dominante bul en koeie met kalwers:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….