Nuus 12:00
BULLETIN 9 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula ontken Ramaphosa oorweeg om te bedank weens die ANC se verkiesingsvertoning
# COSATU sê die verkiesing weerspieël die land se demokrasie
# En: NotInMyName vra etiese, mensgesentreerde leierskap in koalisie-samesprekings
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het bewerings ontken dat president Cyril Ramaphosa oorweeg om te bedank weens die party se vertoning in die munisipale verkiesing. Die ANC se nasionale steun het van 45,59-persent in 2021 tot sowat 30,76-persent gedaal. Die Sunday Times berig Ramaphosa is bereid om opsy te staan, en die party se nasionale uitvoerende komitee behoort aanspreeklikheid te aanvaar vir die verkiesings-terugslag. Mbalula beskryf die berig as kwaadwillig:
# Die vakbondfederasie Cosatu sê die suksesvolle munisipale verkiesing getuig van Suid-Afrika se blywende grondwetlike demokrasie. Hierdie verkiesing het ‘n beter kiesersopkoms getoon, met 52-persent teenoor 45,9-persent in 2021. Matthew Parks van COSATU sê bestendige en vooruitstrewende koalisies in belang van werkersklasgemeenskappe moet gestig word in munisipaliteite waar partye nie ‘n volstrekte meerderheid ingepalm het nie:
# NotInMyName Internasionaal vra politieke leiers wat aan koalisie-samesprekings deelneem om voorkeur te gee aan etiese en mensgesentreerde leierskap. Woordvoerder Themba Masango herinner onderhandelaars om alle burgers se belange regverdig te dien en nie politieke elite s’n nie. Hy verwys na die dringende behoefte aan eerlikheid en toerekenbare bestuur wat fokus op doeltreffende dienslewering en gelykheid. Masango sê burgers se vertroue moet nie gebruik word as onderhandelingsmiddel nie, maar ware leierskap is nou nodig om die vertroue te beloon wat in verkose ampsdraers gestel is.
# ‘n Vier-en-twintig-jarige man wat die naweek ses mense doodgeskiet het op ‘n gewilde markplein in Kraków, Pole, het vandag in die hospitaal gesterf. Die Poolse burger het in die stad se hoofmarkplein lukraak op mense begin skiet. Vier vroue en twee mans is dood en 16 mense, insluitend twee polisiebeamptes, beseer. Beamptes het die aanvaller gewond, waarna hy in ‘n bedenklike toestand hospitaal toe is. Voorlopige ondersoeke toon hy is deur verregse ideologieë beïnvloed. Poolse aanklaers het begin met ‘n ondersoek na terrorisme.
# Gholf: Die tweemalige major-kampioen, Bryson DeChambeau, is tjoepstil oor sy toekomsplanne nadat hy LIV Gholf verlaat het, maar is nie jammer hy het in 2022 by die wegbreekliga aangesluit nie. LIV het verlede week sy sluiting aangekondig nadat hy nie finansiële steun kon bekom nie. Die Amerikaner was waarskynlik die bekendste speler om na die winsgewende liga oor te loop. Hy sê dit was wonderlik om te speel voor skares wat selde die beste spelers tuis kan ondersteun, en glo LIV kon meer mense bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-80-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-94-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….