Nuus 12:00
BULLETIN 6 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Parlement verleng die ad hoc-komitee se mandaat ‘n vyfde keer
# Ramaphosa neem kennis van die inhoud van die tweede tussentydse verslag van die Madlanga-kommissie
# En Solidariteit waarsku die sluiting van ‘n fabriek in Tulbagh kan tot ‘n maatskaplike krisis lei
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die mandaat van die ad hoc-komitee wat bewerings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ondersoek, tot 11 September verleng. Die komitee ondersoek bewerings van korrupsie, politieke inmenging en misdaadsindikate in die Polisiediens. Sy vorige mandaat het einde verlede maand verstryk, maar die werk was nog nie afgehandel nie. Didiza sê die reëls maak voorsiening vir die verlenging van die mandaat totdat die komitee se taak voltooi is.
# President Cyril Ramaphosa sê hy het kennis geneem van die aanbevelings en verwysings in die tweede tussentydse verslag van die Madlanga-kommissie. Dis op 29 Mei aan hom voorgelê na die indiening van die eerste tussentydse verslag op 17 Desember verlede jaar. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die kommissie het tugstappe aanbeveel, asook onmiddellike misdaad-ondersoeke teen Shadrack Sibiya, Fannie Nkosi, Brown Mogotsi en Getuie G:
# Forum for South Africa verwelkom die terugroep van Suid-Afrika se hoëkommissaris in Indië, Anil Sooklal. Hy het in Junie ‘n godsdienstige seremonie in ‘n Hindoe-tempel in Haridwar in die noorde van Indië bygewoon saam met oudpresident Jacob Zuma en een van die vermeende meesterbreine agter staatskaping, Ajay Gupta. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê Suid-Afrikaanse diplomate moet die land se waardes en belange verteenwoordig en sy internasionale reputasie beskerm:
# Die vakbond Solidariteit sê die moontlike sluiting van Premier Foods se vrugte-inmaakfabriek in Tulbagh in die Wes-Kaap kan ‘n verwoestende uitwerking op die gemeenskap hê. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het reeds begin met gesprekke oor die voorgestelde sluiting. Gideon du Plessis van die vakbond sê 424 regstreekse en duisende onregstreekse werksgeleenthede is in gevaar, en skryf dit toe aan dalende wêreldwye vraag en hoër Amerikaanse invoertariewe:
# Tennis: Die eerste-gekeurde Alexander Zverev van Duitsland en die vierde-gekeurde Daniil Medvedev van Rusland is uitgeskakel uit die Kanadese Ope in Montreal. Zverev het verloor teen Tallon Griekspoor, terwyl nog ‘n Nederlander, Botic van de Zandschulp, vir Medvedev verslaan het. Die sewende-gekeurde Taylor Fritz het in skoon stelle verloor teen die Argentyn Thiago Agustin Tirante. In die vroue-afdeling het die Amerikaner Coco Gauff haar landgenoot Kayla Day in skoon stelle uitgeskakel, terwyl Alexandra Eala van die Filippyne die Amerikaner Alycia Parks in drie stelle geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-753-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-265-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….