Nuus 12:00
BULLETIN 22 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verdagte word vasgetrek vir die moord op die hoofouditeur van die Ekurhuleni-munisipaliteit
# ‘n Onderwysaktivis sê Manamela se aanstelling as minister van Hoër Onderwys is welverdiend
# En sokker: Banyana Banyana speel vanaand in die halfeindronde van die Afrikabeker-vrouetoernooi
# ‘n Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op die hoofouditeur van die Ekurhuleni-munisipaliteit in Gauteng. Mpho Mafole is verlede maand op die R23-pad in Kemptonpark doodgeskiet. ‘n Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê ‘n 40-jarige man sal na verwagting môre in die plaaslike Landdroshof verskyn. Sy sê die span soek ook na ‘n tweede verdagte, Hlanganani Mncwango, nadat ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta verwelkom Buti Manamela se aanstelling as nuwe minister van Hoër Onderwys en Opleiding. Dit volg op die afdanking van Nobuhle Nkabane oor omstredenheid in verband met die aanstelling van raadsvoorsitters van Sektor-onderwys- en opleidings-owerhede. Makaneta sê Manamela is ‘n bekende in die hoër-onderwysomgewing wat ook adjunkminister was, en het boonop in sy studentedae teen akademiese en finansiële uitsluiting geveg:
# Die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, veroordeel die dood van Palestyne by hulpverspreidingspunte in Gaza. Volgens berigte het Israelse soldate die afgelope maande meer as 800 Palestyne by verspreidingspunte doodgeskiet. Die Verenigde Nasies sê die meeste sterftes was naby hulpsentrums wat deur Amerika en die Israels-gesteunde Gaza-humanitêre stigting bestuur word. Makgoba sê dit moet moontlik wees om aan honger mense kos te gee sonder om hulle dood te maak. Hy sê hy ween oor die voortgesette dood van burgerlikes.
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie het meer as 200-duisend bladsye met inligting oor die sluipmoord op die menseregte-aktivis Martin Luther King Junior vrygestel. Hy is op 4 April 1968 op 39-jarige leeftyd in Memphis doodgeskiet. Die rekords wat sedert 1977 volgens ʼn hofbevel verseël is, sluit FBI-lêers en leidrade in wat ná King se dood ontvang is. Die vermoorde Nobelpryswenner se familie, insluitend sy twee kinders, vra diegene wat by die vrystelling van hierdie lêers betrokke is, om dit met empatie, selfbeheersing en respek te doen.
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Banyana Banyana, speel vanaand in Marokko teen Nigerië in die halfeindronde van die Afrikaber-vrouetoernooi. Suid-Afrika het vroeër vir Ghana, Tanzanië en Mali geklop voordat hulle Senegal in die kwarteindronde met doelskoppe verslaan het om ‘n plek te bespreek in die voorlaaste ronde. Hoofafrigter Desiree Ellis beskryf haar span as veerkragtig en dapper, met ‘n veg-tot-die-dood-toe-houding. Die gasvroue en Ghana speel in die ander halfeindstryd en die eindstryd word Saterdag beslis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-567-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-388-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….