Nuus 12:00
BULLETIN 9 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu ontken bande met beskuldigde Vusimuzi ‘Cat’ Matlala
# Die Spaanse polisie sê Liverpool se sokkerspeler, Diogo Jota, het self bestuur tydens die noodlottige ongeluk
# En rugby: Willie le Roux word Saterdag die agste Springbok om in 100 toetse te speel
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê hy het die tenderpreneur, Vusimusi ‘Cat’ Matlala wat in Mei vir poging tot moord aangekeer is, nog nooit ontmoet of met hom gepraat nie. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, beweer hy het bewyse op Matlala se foon gevind wat die minister verbind met ongemagtigde kommunikasie deur ‘n vennoot, Brown Mogotsi. Die ministerie van Polisie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê Mchunu het ʼn polisie-tender aan Matlala hersien toe twyfel oor die regmatigheid daarvan ontstaan het:
# Die DA maan president Cyril Ramaphosa om onmiddellik met die proses te begin om ʼn plaasvervanger te vind vir die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, advokaat Shamila Batohi. Sy tree na verwagting in Januarie af. Glynnis Breytenbach van die DA sê deel van die oplossing om die Nasionale Vervolgingsgesag reg te ruk is ʼn gekwalifiseerde, bekwame nasionale direkteur aan die stuur. Sy sê Ramaphosa moet ʼn deursigtige proses volg wat openbare deelname en parlementêre beraadslaging insluit om geskikte kandidate vir die pos te vind.
# Cosatu is diep bekommerd oor die tarief van 30-persent wat die Amerikaanse president, Donald Trump, op Suid-Afrikaanse uitvoere aangekondig het, en sê dit sal ‘n verwoestende uitwerking op die ekonomie hê. Sektore wat hard getref sal word, sluit in die motorbedryf, landbou, klere, die chemiese bedryf en juweliersware. Matthew Parks van Cosatu sê dis duidelik dat nog onderhandelings met die Amerikaanse regering nodig is om alternatiewe te vind wat voordelig sal wees vir werkgeleenthede en sakeondernemings in albei lande:
# Die Spaanse polisie sê bewyse dui daarop dat Diogo Jota self sy kragtige supermotor, ‘n Lamborghini Huracan, bestuur het tydens verlede week se ongeluk waarin die sokkerspeler van Liverpool en sy broer dood is. Die owerhede meen ook daar is bewyse dat hy baie vinniger as die spoedgrens gery het. Die multimiljoenêr-speler was per motor en veerboot op pad na Liverpool vir die voor-seisoen. Die ongeluk het op die Rias Bajas-hoofweg naby Palacios de Sanabria plaasgevind.
# Rugby: Willie le Roux word Saterdag die agtste Springbok met 100 toetse op sy kerfstok wanneer hulle Italië pak in die tweede toets in Gqeberha. Die span word aangevoer deur Salmaan Moerat terwyl Siya Kolisi nog van ‘n besering herstel. Jasper Wiese se broer, Cobus, Asenathi Ntlabakanye en Ethan Hooker kan hulle buiging van die bank maak, en Manie Libbok en Grant Williams is die nuwe skakelpaar. Afrigter Rassie Erasmus sê Le Roux is ‘n wonderlike spelskepper en hy is verheug dat hy die ongelooflike prestasie behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-844-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-286-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….