Nuus 11:00
BULLETIN 19 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika sal voortgaan om by te dra tot die stryd teen klimaatsverandering
# ‘n Politieke ontleder sê die DA sal nie op sy eie as nasionale regering verkies word nie
# En, Israel se eerste minister is uitdagend oor ‘n moontlike Rafah-aanval
# President Cyril Ramaphosa sê Afrika-leiers vra lank reeds vir dringende en praktiese optrede teen klimaatsverandering omdat die vasteland kwesbaar is daarvoor. Klimaatsverandering is by die Afrika-unie se beraad in Ethiopië bespreek. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrika het ‘n klimaatsverandering-reaksiefonds gestig wat alle regeringsvlakke en die privaat sektor byeen bring. Hy sê die land sal voortgaan om te veg teen die instelling van eensydige klimaat- en omgewingsgebaseerde aksies, beleide en belastings.
# Die DA se vermeende onvermoë om kiesers te oortuig om hom op sy eie as nasionale regering te verkies, is ʼn aanklag teen sy leiers, lede en invloedryke skenkers. Dis die mening van die politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela. Die party het Saterdag sy verkiesingsmanifes in Pretoria bekend gestel. Die leier, John Steenhuisen, glo die moontlikheid dat die ANC minder as 50-persent kan kry, skep geleentheid vir ʼn DA-geleide koalisie om oor te neem. Mkhabela het in ʼn artikel vir News24 gesê die DA se pad na mag hang af van koalisie-ooreenkomste.
# Die EFF in Gauteng sê hy verwerp die Jeug-indiensnemingsprojek deur die provinsiale Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, en beskryf dit as ‘n korrupte en bedrieglike skema. Die departement het deur middel van die Gauteng-ondernemingsaandrywer, ‘n inisiatief begin wat bedoel is om sedert 2016 meer as 75-duisend werksgeleenthede oor drie jaar te skep. Naledi Chirwa-Mpungose van die EFF, sê, ondanks die feit dat Amahlo Konsultasiedienste tussen 2016 en 2019 soveel as 59,7-miljoen-rand betaal is, het hy slegs 142 studente gehelp:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê diegene wat teen ‘n Rafah-offensief gekant is, sê eintlik vir Israel om die oorlog teen Hamas te verloor. Lande, insluitend die VSA en Brittanje het Netanyahu gewaarsku om nie soldate na Rafah te stuur nie, veral oor die kommer oor burgerlikes wat daar skuil. Netanyahu sê hy verwerp enige scenario waarvolgens Hamas sy militêre en regerende vermoëns sal kan herbou:
# Motorsport: Formule Een het Red Bull versoek om die ondersoek na die spanhoof, Christian Horner, so gou moontlik af te handel. Horner word ondersoek nadat ‘n kollega hom beskuldig het van onvanpaste gedrag. Die 50-jarige het die bewerings ten sterkste ontken. F1 sê hy hoop die saak sal so gou moontlik uitgeklaar word, deur middel van ’n regverdige en deeglike proses. Die voorseisoen-toetse begin Woensdag, vóór die eerste wedren van die jaar op 2 Maart in Bahrein.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-397-dollar-636-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-21-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….