Nuus 11:00
BULLETIN 4 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika vra kiesers om vir menseregte en aanspreeklikheid te stem
# Twee werkers word ‘n week na die verwoestende oorstroming in Nepal uit ’n hidrokrag-tonnel gered
# En tennis: Auger-Aliassime word uit Amerikaanse Ope geskakel terwyl Monfils sy laaste Grand Slam-wedstryd gespeel het
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika sê die plaaslike regeringsverkiesing in November is ‘n kritieke oomblik van aanspreeklikheid weens die groot ontevredenheid met dienslewering en sigbare mislukkings in vele munisipaliteite. Volgens die verslag van die Ouditeur-generaal het net 39 van die 257 munisipaliteit ‘n skoon oudit gekry in die jongste ouditeursverslag. Amnestie Internasionaal SA sê kiesers moet vir menseregte en aanspreeklikheid stem. Hulle moet ‘n sterk boodskap aan verkose ampsdraers uitstuur dat korrupsie en swak dienslewering nie langer geduld sal word nie.
# Die vakverbond Cosatu het die Foschini-groep gevra om ernstig te besin oor die uitwerking wat die sluiting van winkels op sy personeel gaan hê. Die maatskappy wil teen 2029 sowat 280 winkels in Afrika sluit en op aanlyn verkope konsentreer wat tans beter presteer as gewone bedrywighede. Cosatu se woordvoerder, Nonzuzo Dlamini, sê die beplande sluiting kom op ʼn tydstip waar kunsmatige intelligensie en outomatisering tot afleggings lei. Sy sê werkers word dikwels sonder voldoende vergoeding gelaat:
# ʼn Vier-en-veertigjarige lid van die Mpumalanga-polisie se blitspatrollie is tydens ʼn vroegoggend-operasie in die Secunda-polisiekantoor aangekeer. Hy word verbind met die kaping van vragmotors wat diesel vervoer. Polisiewoordvoerder Mavela Masondo sê die geregsdienaar se betrokkenheid het aan die lig gekom tydens ʼn ondersoek nadat vier ander verdagtes vasgetrek is. Hy sê hy sal Maandag in die hof verskyn:
Nuus uit die buitland:
# Reddingswerkers het twee werkers lewend gehaal uit ʼn hidrokragtonnel in Nepal – meer as ʼn week nadat hulle tydens die rampspoedige oorstroming op die grens met Tibet vasgekeer is. Sanjaya Shah en Kabir Maharjan het beserings aan hul hande en bene opgedoen. Minstens 39 ander sal na verwagting ook uit die tonnel gered word. Sowat 900 werkers by 12 hidrokrag-projekte in Nepal word vermis en ongeveer 500 is waarskynlik in tonnels vasgekeer.
# Tennis: Die 40-jarige Fransman Gael Monfils het sy laaste Grand Slam-wedstryd gespeel toe hy in die tweede ronde van die Amerikaanse Ope teen die plaaslike speler Learner Tien verloor het. Karen Khachanov van Rusland het die wêreld-nommer-vier, Felix Auger-Aliassime van Kanada, getroef. In die vroue-afdeling het die tweede-gekeurde Elena Rybakina van Kazakstan ʼn oorwinning behaal oor Jessica Bouzas Maneiro van Spanje. Die Amerikaner Coco Gauff is ook deur na die derde ronde ná ʼn naelskraapse sege oor die Spanjaard Paula Badosa. Naomi Osaka van Japan het die Tsjeg Katerina Siniakova geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-86-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-465-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….