Nuus 11:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 16 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa belowe Suid-Afrika sal nie sy rug op verdruktes keer nie
# ‘n Mini-substasie wat 10 jaar gelede gesteel is, is in Lenasia teruggevind
# En, die VSA waarsku die Oekraïnse dorp Avdiivka kan deur Rusland ingeneem word
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika mag ‘n klein landjie op die internasionale front wees, maar hy sal nie sy mond laat snoer oor menseregteskendings wêreldwyd nie. Ramaphosa het Donderdag in sy eerste toespraak ooit by die Kaapstadse Persklub verwys na die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne, en tussen Hamas en Israel. Hy het ook oor talle knellende kwessies in die land gepraat. Joernaliste het hom met vrae gepeper oor onder meer die land se immer veranderende buitelandse beleid, beurtkrag en die komende algemene verkiesing.
# Die GOOD Party sê die Wes-Kaap moet hom voorberei vir ‘n koalisieregering. Dit volg op die uitslag van ’n tussenverkiesing Woensdag in Theewaterskloof, waarin die ANC en DA saam slegs 48% van die stemme op hulle kon verenig. Die DA het byna die helfte van sy steun verloor en in net drie jaar, van 51 persent in 2021 tot 28 persent vanjaar, gedaal. Die GOOD Party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê van ál die partye wat aan die verkiesing deelgeneem het, was die DA die enigste verloorder:
# City Power het ‘n gesteelde mini-substasie van nagenoeg 400-duisend-rand en 900-duisend-rand se elektriese kabels by ‘n hardewarewinkel in Lenasia-Suid gevind tydens ‘n optrede deur die Lenasia-diensleweringsentrum om onwettige verbindings te verwyder. ‘n Sakeman is in besit van die substasie van 11-kilovolt gevind nadat dit in 2014 van City Power se perseel in Booysens verdwyn het. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die nutsmaatskappy se rekords toon vier substasies is in daardie stadium verkry, maar een het spoorloos verdwyn:
# Die VSA het gewaarsku dat Rusland Oekraïne se belangrikste oostelike dorp, Avdiivka, wat die afgelope tyd die toneel was van die hewigste gevegte nóg, kan annekseer. Die woordvoerder van die Nasionale Veiligheidsraad, John Kirby, het tydens ‘n mediakonferensie gesê Avdiivka kán val omdat die Oekraïnse magte se artillerie-ammunisie opraak. Oekraïne is uiters afhanklik van wapenvoorrade van die VSA en ander Westerse bondgenote om te kan voortgaan om Rusland te beveg. NAVO het vroeër gewaarsku die VSA se gesloer om voortgesette militêre hulp aan Oekraïne goed te keur, het reeds ‘n impak gehad op die slagveld.
# Krieket: ‘n Honderdtal deur Kane Williamson en ‘n vyftigtal deur Will Young was die dryfkrag in Nieu-Seeland se sege oor die Proteas in die tweede toets in Hamilton. Die Proteas het eerste gekolf en is in die eerste beurt vir 242 uitgehaal, waarna hulle die Swart Pette vir 211 uitgeboender het vir ‘n skrale voorsprong van 31 lopies. Die besoekers is in die tweede beurt vir 235 uitgehaal, wat aan die tuisspan ‘n teiken van 267 gestel het, wat hulle gehaal het met drie paaltjies plat. Dit was Nieu-Seeland se eerste oorwinning in ‘n toetsreeks oor Suid-Afrika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-en-34-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-drie-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….