Nuus 11:00
BULLETIN 2 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi het vertroue in Leonard Lekgetho se vermoë om die Spesiale Ondersoekeenheid met integriteit te lei
# Goldman Sachs verwag Suid-Afrika sal teen 2028 na beleggingsgraad terugkeer
# En rugby: Die Bokke se skrumafrigter ontken bewerings van indringing in skrums
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê Leonard Lekgetho is aangestel as nuwe hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid terwyl die regering sy pogings voortsit om korrupsie te bekamp. Lekgetho het 19 jaar ervaring in die eenheid. Woordvoerder Palesa Rammitlwa sê Kubayi glo sy ondervinding en grondige kennis sal hom goed te pas kom om die eenheid te lei om sy belangrike mandaat na te kom:
# Die Goldman Sachs-groep meen Suid-Afrika kan sy beleggingstatus reeds in 2028 herwin, namate graderingsmaatskappye die land se verbeterende finansies en ekonomiese groei beloon. Volgens die ontleding kan die regering se tienjaar-opbrengs in plaaslike geldeenheid moontlik met meer as 100 basispunte tot 7,6-persent daal. Goldman se ekonoom, Andrew Matheny, sê die groep verwag beter fiskale dinamika, stewiger groei en ‘n sterker beleidsagtergrond om kredietopgraderings oor die volgende jaar aan te dryf. S&P Global Ratings en Moody’s Ratings het Suid-Afrika op twee kerwe onder beleggingsgraad, met positiewe vooruitsigte.
# Die DA sê die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling moet rekenskap gee oor die inenting van diere teen bek-en-klouseer. Die departement het erken slegs 540-duisend diere is ingeënt terwyl hy meer as 757-duisend-340 entstofdosisse ontvang het. Bronwynn Engelbrecht van die DA sê dit beteken meer as 200-duisend dosisse is nie toegedien nie, wat pogings belemmer om die uitbreking te bekamp:
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, waarsku lugrederye en passasiers om die Russiese lugruim te vermy en sê dit word al onveiliger. Kiëf het sy lugruim vir burgerlike vliegtuie gesluit toe die oorlog begin het. Lugrederye van China, Turkye en die Golf-state is onder dié wat die Russiese lugruim gebruik. Zelensky sê sy land gaan hommeltuigaanvalle teen Moskou verskerp, maar hou vol dis nie ʼn dreigement teen burgerlugvaart nie. Rusland se president, Vladimir Putin, het daarop gesê Zelensky se opmerkings kom neer op ʼn verklaring van staatsterrorisme.
# Rugby: Die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, sê dis nie in sy aard om te probeer kul of sy spelers onwettige skrumopdragte te gee nie. Nieu-Seeland se afrigter, Dave Rennie, het Suid-Afrika beskuldig van onderduimse taktiek in die skrum. Hy beweer die Bokke loop om hul teenstanders in die vaste fasset. Human sê hulle sal selfs harder werk om hul skrumwerk reg te doen, met die klem op basiese oorheersing:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-577-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-320-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….