Nuus 11:00
BULLETIN 30 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaners word versoek om nie demokrasie met geweld te ondermyn tydens die verkiesing nie
# Die Christelike Forum erken Ramaphosa se verklaring oor godsdiens in skole
# En Soil of Africa sê die groei in die toerismesektor moet tot meer werksgeleenthede lei
# Die Interministeriële Komitee oor Plaaslikeregeringsverkiesings het alle Suid-Afrikaners versoek om versigtig te wees en nie demokrasie tydens die verkiesing met enige tipe geweld te ondermyn nie. Die departementele woordvoerder van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Pearl Maseko-Binqose, sê die Verkiesingskommissie se navorsingsverslag verskaf inligting oor die sienings en gedragsvoorkeure van volwasse Suid-Afrikaners om die verkiesingskonteks beter te verstaan en die OVK in te lig oor sy verkiesingsbestuursmandaat:
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum erken die uitspraak deur president Cyril Ramaphosa tydens die ANC-verkiesingsveldtog in Soweto dat kerke ruimte vir aanbidding binne openbare skole gegun moet word. Die forum se president, Marothi Mashashane, is egter versigtig. Hy hoop die verklaring is ‘n opregte verbintenis tot godsdiensvryheid en gemeenskapsopheffing, eerder as ‘n blote veldtogstrategie om die Christelike stem te verseker:
# Die burgerlike beweging, Soil of Africa, sê Suid-Afrika se groei in die toerismesektor moet nou regstreeks aanleiding gee tot grootskaalse werkskepping. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het aangekondig Suid-Afrika het 991-duisend-696 internasionale toeriste in Julie 2026 verwelkom, wat ‘n toename van 12,5 persent verteenwoordig in vergelyking met Julie 2025. Tussen Januarie en Julie 2026 het die land 6,5-miljoen internasionale toeriste-aankomste aangeteken, ‘n toename van 12,4% in vergelyking met 2025. Die beweging se woordvoerder, Luzuko Sofute, sê Suid-Afrika beskik oor buitengewone toerismebates:
# Ysland het begin met die tel van stemme in ‘n referendum oor die vraag of gesprekke oor lidmaatskap van die Europese Unie heropen moet word. Die uitslag kan nie voorspel word nie; die verskil is te klein. Vroeë uitslae gee die “ja”-veldtog ‘n noue voorsprong, maar “nee”-stemme het oornag met die telling ingestroom. Die referendum gaan nie oor die besluit of Ysland by die EU moet aansluit nie, slegs of lidmaatskaponderhandelinge hervat moet word. ‘n Tweede stemming sou nodig wees oor enige uiteindelike lidmaatskapsooreenkoms. Die uitslag kan die debat heropen wat Ysland in 2013 laat vaar het, toe die vorige EU-onderhandelinge opgeskort is.
# En ten slotte, sportnuus:
# Tennis:: Novak Djokovic sê hy is voorbereid vir sy jongste poging om tennisgeskiedenis te maak by die Amerikaanse Ope, waar hy ‘n rekord 25ste Grand Slam-titel wil verower. Die 39-jarige het die laaste vier of beter gehaal in ses van die afgelope sewe groot toernooie, maar nog nie een gewen sedert hy die Amerikaanse Ope-trofee in 2023 verower het nie. Met die wêreld-nommer-een Jannik Sinner wat weens ‘n kniebesering uit is en die verdedigende kampioen Carlos Alcaraz wat terugkeer na ‘n lang polsbesering, lyk die loting buitengewoon oop. Djokovic begin vandag sy Amerikaanse Ope-veldtog teen Argentinië se Mariano Navone.
# En motorsport: Lando Norris het sy McLaren-kontrak tot minstens die einde van 2030 verleng en hom verbind tot die span vir die afsienbare toekoms. Die 26-jarige Brit het in 2017 as toetsbestuurder by McLaren aangesluit en twee jaar later sy Formule Een-debuut gemaak. Norris het sedertdien 13 Grands Prix gewen, 18 keer eerste weggespring en verlede jaar sy eerste wêreldkampioenskap verower. Hy sê McLaren is sy tuiste en sal graag sy Formule Een-loopbaan by die span afsluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….