Nuus 11:00
BULLETIN 22 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende polisiekommissaris sê planne is beraam voor die teen-immigrasiebetogings op 30 Junie
# Die DA-leier sluit nie politieke motiewe uit ná die moord op ‘n wykskandidaat in Dunoon nie
# En krieket: Stokes en Atkinson is terug vir Engeland in die derde en beslissende toets teen Nieu-Seeland
# Die waarnemende polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê planne is beraam om wet en orde te handhaaf tydens toenemende spanning oor immigrasie te midde van teen-immigrasieveldtogte en oproepe dat ongedokumenteerde buitelanders Suid-Afrika teen 30 Junie moet verlaat. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die naweek met bestuur vergader, waar hy ingelig is oor bedryfsplanne wat sal verseker dat betogings veilig en vreedsaam plaasvind. Dimpane sê onwettigheid sal nie geduld word nie:
Koning Misuzulu kaZwelithini vra intussen selfbeheersing te midde van toenemende spanning rondom onwettige immigrante en sê geen griewe, hoe groot ook al die frustrasie, regverdig bloedvergieting of aanranding op ander nie. Die regering distansieer hom van die sperdatum en sê dit het geen regsgesag nie. Koning Misuzulu sê die geweld wat sommige betogings gekenmerk het, skaad die land se beeld in die wêreld:
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê die party kan nie politieke motiewe uitsluit vir die moord op ‘n wyksraads-kandidaat in ʼn tussenverkiesing in Dunoon, Kaapstad, nie. Sinovuyo Dyokwe is doodgeskiet terwyl sy Saterdag van ʼn registrasie-lokaal op pad was huis toe. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Hill-Lewis sê slegs ʼn paar maande gelede was sy hard aan die werk om die DA te laat groei tot sy beste uitslag ooit in ʼn tussenverkiesing:
Nuus uit die buiteland:
# Die regse kandidaat, Abelardo de la Espriella, het die presidentsverkiesing in Colombië gewen en die linkse Iván Cepeda net-net verslaan. Volgens voorlopige uitslae deur die Nasionale Burgerlike Register, het die 47-jarige prokureur en sakeman 49,8-persent van die stemme ingepalm en Cepeda 48,7-persent. De la Espriella, wat deur die Amerikaanse president, Donald Trump, ondersteun word, het beloof om streng op te tree teen misdaad, insluitend dwelmhandel. Hy het ook ‘n sterker sekerheidsverhouding met Amerika beloof, asook laer belasting, uitgebreide olie-verkenningsondersoeke en ekonomiese bevryding.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, en die snelbouler Gus Atkinson is ingsluit in die groep vir die derde en beslissende toets teen Nieu-Seeland wat Donderdag op Trent Bridge begin. Hulle is uitgelaat vir die tweede toets na ‘n onlangse voorval in ‘n Londense nagklub. Engeland het die tweede toets op die Oval met 253 lopies verloor. Die Engelse en Walliese Krieketraad het Stokes en Atkinson na ‘n ondersoek vrygespreek van gewelddadige gedrag, maar bevind hulle het spesifieke kontrakverpligtinge verbreek. Albei het ‘n skriftelike waarskuwing ontvang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-25-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-199-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….