Nuus 11:00
BULLETIN 21 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê buitelanders sonder die regte dokumentasie hoort nie in Suid-Afrika nie
# Die OVK ervaar hoë verkeer op sy webwerf
# En rugby: Rassie kies ses nuwelinge vir sy Nasieskampioenskapsgroep
# Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, sê alle buitelandse burgers sonder behoorlike permitte en dokumentasie mag nie in Suid-Afrika wees nie. Ramaphosa het die ANC se kieserregistrasieveldtog in die Stad Ekurhuleni gelei. Die March and March-beweging, saam met ander organisasies, betoog voortdurend teen buitelandse burgers en eis dat alle ongedokumenteerde immigrante die land teen 30 Junie moet verlaat. Die president sê die regering tree streng op teen sakeondernemings en huishoudings wat ongedokumenteerde buitelandse burgers in diens neem:
Die burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba, sê intussen die Suid-Afrikaanse regering het 20 busse beskikbaar gestel om die repatriasie van Malawiese burgers van Durban in KwaZulu-Natal na hul tuisland te bespoedig. Hy sê tot op hede is byna vierduisend mense gedeporteer of gerepatrieer. Die burgemeester sê die Inry-terrein sal as ‘n tydelike opvangsgebied dien om die deportasie- en repatriasieproses te bespoedig, terwyl die Sherwood-terrein operasioneel sal bly:
# Die Verkiesingskommissie ervaar tans hoë verkeer op sy webwerf met duisende Suid-Afrikaners wat die naweek kieserregistrasiedienste gebruik. Masego Shiburi van die OVK sê dit kan daartoe lei dat die stelsel stadiger is as gewoonlik. Hy sê die kommissie se tegniese spanne is besig om die probleem so gou as moontlik op te los. Shiburi sê alle jong Suid-Afrikaners word aangemoedig om aktief te bly deur te registreer om te stem en te verseker dat hul stemme gehoor word:
# ‘n Hittegolf oor ‘n groot deel van Europa, het gelei tot ‘n gedeeltelike alkoholverbod in Frankryk, landwye waarskuwings in Duitsland en die sluiting van ‘n sokkerondersteunersone in Spanje, met temperature wat tot rekordvlakke kan styg. Frankryk verwag vandag rooi hittegolfwaarskuwings met temperature van 39- tot 40-grade Celsius vanuit die suidweste deur die Parys-streek tot in Bourgondië, met sommige gebiede wat moontlik 41-grade kan haal. Hittewaarskuwings is ook in die grootste deel van Duitsland afgekondig. Wetenskaplikes sê klimaatsverandering laat hittegolwe meer gereeld en intens regoor Europa voorkom, wat ontwrigting in die somermaande verhoog.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus het gisteraand ‘n groep van 46 spelers aangewys, bestaande uit ses nuwelinge en 12 terugkerende Bulle, vir die eerste Nasieskampioenskapswedstryd, wat op Saterdag 4 Julie teen Engeland in Johannesburg plaasvind. Die groep sluit in 28 voorspelers en 18 agterspelers, met Paul de Villiers, Riley Norton, Ruben van Heerden, Carlu Sadie, Vusi Moyo en Jaco Williams as die nuwelinge in die meestal ervare groep.
Die wedstryd teen Engeland word gevolg deur botsings teen Skotland in Pretoria op 11 Julie en Wallis in Durban op 18 Julie, voordat die Bokke na Buenos Aires reis om op 8 Augustus ‘n eenmalige toets teen die Pumas te speel. Die groep sal vandag in Johannesburg aankom om hul oefenkamp te hervat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….