Nuus 11:00
BULLETIN 20 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# NATJOINTS verseker Suid-Afrikaners van ‘n veilige kiesersregistrasienaweek
# Israel waarsku oor die voortgesette Hisbolla-bedreiging
# En gholf: Wyndham Clark loop voor in die Amerikaanse Ope
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensie-bevelstruktuur het omvattende sekuriteits- en operasionele planne ingestel om ‘n veilige en vreedsame kiesersregistrasienaweek te verseker. Die polisie se woordvoerder, Athlenda Mathe, sê uitgebreide ontplooiings is regoor die land beplan, met lede wat by kiesersregistrasiepunte, op strategiese roetes en by geïdentifiseerde brandpunte ontplooi is. Sy sê operasionele planne sluit in, hoë-sigbaarheidswetstoepassing, intelligensie-geleide operasies, Openbare Orde Polisiërings-ontplooiings en vinnige reaksievermoëns om enige voorvalle wat mag ontstaan te hanteer:
Intussen is die IVP se nasionale uitvoerende komitee na verskeie kiesafdelings regoor die land ontplooi. IVP-woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, sê dit is deel van die party se pogings om kiesers te mobiliseer om te registreer en te verseker hul stemme word gehoor in die komende plaaslike regeringsverkiesing in November. Hy sê burgers speel ‘n belangrike rol in die toekoms van munisipaliteite deur bekwame en verantwoordbare leiers te verkies wat gehalte-dienste sal lewer en die lewens van alle Suid-Afrikaners sal verbeter.
# Eskom sê voortgesette verbeterings in energiebeskikbaarheid, sterker opwekkingsverrigting en minder onderbrekings dra by tot meer stelselbestendigheid in die land namate die winteraanvraag na elektrisiteit toeneem. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die gemiddelde onbeplande onderbrekings het dié week afgeneem tot tien-duisend-640-megawatt, ‘n beduidende daling van vier-duisend-622-megawatt vanaf die 15-duisend-262-megawatt in dieselfde tydperk verlede jaar. Sy sê dit is amper gelykstaande aan die opwekkingsvermoë van die Kusile-kragstasie:
# Die Instituut vir Bestuursontwikkeling en Produktiwiteit SA het aangekondig Suid-Afrika het sy posisie in die 2026 Wêreldmededingendheidsjaarboek verbeter en is tans 54ste uit 70 ekonomieë wat beoordeel is, vergeleke met 64ste in 2025. Produktiwiteit SA se statistikus, Juliet Mashabela, sê die verbetering dui op vordering in verskeie sleutelgebiede, insluitend regeringsdoeltreffendheid, sakevertroue en infrastruktuurbestuur. Sy voeg egter by beduidende strukturele uitdagings demp steeds die land se mededingendheid en ekonomiese prestasie:
# Israel sê Hisbolla se skendings van die skietstaking en voortgesette aanvalle vereis voortdurende operasies in Suid-Libanon. ‘n Woordvoerder van die Israelse Weermag, Effie Defrin, sê hulle sal voortgaan om teen bedreigings op te tree, en doen wat nodig is om burgers te beskerm. Defrin sê vier Israelse soldate is dood. Hy het voorts gesê Hisbolla het die afgelope weke honderde hommeltuie en vuurpyle op Israelse burgers en soldate losgelaat:
# En gholf: Die Amerikaner Wyndham Clark het ‘n gerieflike voorsprong van 7 onder baansyfer in die 126ste Amerikaanse Ope aan die begin van die derde ronde vandag. Clarke het die voorsprong in gister se tweede ronde teen die res van die spelers by die uitdagende Shinnecock Hills gholfklub opgebou. Die groep wat kort op sy hakke is sluit in, Matt Fitzpatrick, Xander Schauffele, Tom Kim, en Sam Stevens, wat saam op drie-onder is. Die toernooi se streng afsnypunt van vier-onder het verskeie bekende spelers in die stof laat byt.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….