Nuus 11:00
BULLETIN 13 Junie 11 vm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Makashule Gana bevestig ontvangs van hofstukke van president Ramaphosa se prokureurs vir ‘n interdik teen die ampsklag
# Die DA eis strenger strawwe te midde van ‘n klagte by die Menseregtekommissie oor stygende tienerswangerskappe
# En sokker: Die VSA verslaan Paraguay in die Groep D-openingswedstryd
# Die voorsitter van die Artikel 89-ampsklagkomitee, Makashule Gana, het bevestig dat hy hofstukke van president Cyril Ramaphosa se prokureurs ontvang het wat die Parlement se ampsklag-ondersoek oor die Phala Phala-skandaal probeer keer. Ramaphosa voer in ‘n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Kaapstad aan die proses moet opgeskort word terwyl hy die Artikel 89-paneelverslag teenstaan. Die verslag het prima facie-bewyse van moontlike grondwetlike oortredings gevind. Gana sê die Parlement se regspan bestudeer die dokumente. Die saak sal tydens die komitee se vergadering op 24 Junie bespreek word.
# Eskom sê verbeterde kraglewering het onbeplande onderbrekings verminder en die land se elektrisiteitsvoorsiening verstewig namate die vraag in die winter toeneem. Die nutsmaatskappy sê sy energiebeskikbaarheidsfaktor het tot 63,24-persent gestyg teenoor 57,91-persent ‘n jaar gelede. Sy besteding aan diesel het ook skerp gedaal, en wel byna 89-persent op ‘n jaargrondslag tot 615-miljoen rand. Die woordvoerder van Eskom, Daphne Mokwena, sê Suid-Afrika het nou 392 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag gehad.
# Die DA in Gauteng het meer lig gewerp op sy klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie waarin die party beweer dat regeringsdepartemente versuim om gevalle aan te meld en te ondersoek van beweerde statutêre verkragting wat tot tienerswangerskappe lei. Die DA-woordvoerder Angel Khanyile, sê duisende meisies onder 16 raak elke jaar swanger, maar min sake word voor die hof gebring. Die party eis ‘n dringende ondersoek na die krisis:
# Die Forum for South Africa sê polisie moet gespesialiseerde ontplooiings omskep in arrestasies in die massaskietery in Cleveland waar 12 mense dood is. Die forum sê terwyl bykomende forensiese en taktiese eenhede dringendheid toon, verwag Suid-Afrikaners nou resultate en nie net polisie-ontplooiings nie. Tebogo Mashilompane van FOSA sê die saak moet nie koud word nie, en geregtigheid moet ter wille van die slagoffers en hul families geskied:
Sokker: Die VSA het as mede-gashere van vanjaar se ‘n FIFA Wêreldbekertoernoooi ‘n droom-afskop gehad toe hulle hul teenstanders in Groep D, Paraguay, vanoggend met 4-1 geklop het. Die Stars and Stripes het vir die eerste keer ooit in ‘n Wêreldbeker-wedstryd vier doele aangeteken. Folarin Balogun het twee keer in die eerste helfte doele aangeteken na ‘n vroeë eiedoel, terwyl Gio Reyna die vierde doel diep in beseringstyd aan die einde van die wedstryd aangeteken het. Die twee spanne sal volgende naweek hul Groep D-veldtog hervat, wanneer die VSA Vrydagaand teen Australië uitdraf, en Paraguay Saterdagoggend teen Turkye speel.
# Fietsry: Die Belgiese fietsryer Wout Van Aert het gister aan die Tour Auvergne-Rhone-Alpes onttrek met ‘n knaende elmboogbesering ‘n dag nadat hy skof vyf gewen het. Sy Visma-span sê Van Aert kon nie skof ses begin nie weens aansienlike ongemak met sy elmboog na die ongeluk wat hy verlede week opgedoen het. Van Aert het die Parys-Roubaix-Classic in April gewen en is saam met die Deen Jonas Vingegaard ‘n sleutelfietsryer vir Visma in die Tour de France, wat vanaf die 4de tot die 26ste van volgende maand plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….