Nuus 11:00
BULLETIN 12 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê die regering verwerp die sperdatum waarop onwettige buitelanders die land moet verlaat
# Die Reserwebank waarsku die bedreiging van sistemiese kubervoorvalle het verhoog weens KI
# En rugby: Erasmus hou vol die Bokke se beseringsituasie is nie so ernstig as wat beweer word nie
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, hou vol dat die regering nie die sperdatum van 30 Junie erken waarop onwettige buitelanders die land moet verlaat nie. Dit volg terwyl die teen-immigrasiegroep, March and March, ‘n nasionale afsluiting beplan om te eis dat ongedokumenteerde migrante die land verlaat. Kubayi sê hulle werk volgens die riglyne van die president wat voorskryf hoe migrasie-probleme hanteer moet word. Sy sê onwettige buitelanders moet volgens die land se immigrasiewette verwerk word, wat deportasie insluit.
# Die Suid-Afrikaans Reserwebank waarsku die vooruitgang in kunsmatige intelligensie-modelle hou gevaar in vir finansiële bestendigheid en het tot ‘n aansienlike toename in kwesbaarheid van sagteware en rekenaarstelsels gelei. Die Reserwebank se jongste sesmaandelikse bestendigheidsoorsig wys ‘n gesofistikeerde veelvlakkige aanval wat eers skaars en kundige menslike kennis vereis het, nou bekom kan word vir sowat een-duisend-303-rand. Herco Steyn van die Bank sê kubergevaar het geskuif van enkele en grootliks beheerbare na voordurende en hewiger gevalle:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê ‘n uitspraak deur die Motorbedryf-bedingingsraad se sentrum vir Geskilbeslegtiging bevestig werkers kan nie ontslaan word omdat hulle tydens dissiplinêre verhore die waarheid praat nie. ‘n Diensadviseur by Mosselbaai Ford in die Wes-Kaap, is ontslaan nadat hy getuienis gelewer het in ‘n werksplekgeskil. Phakamile Hlubi-Majola van MISA sê die werkgewer se poging om die uitspraak tersyde te stel, is van die hand gewys:
# Die gewese president van Suid-Korea, Yoon Suk Yeol, is tot dertig jaar tronkstraf gevonnis oor aanklagte dat hy opdrag gegee het om hommeltuie na Noord-Korea in te stuur. Dit was ‘n poging om spanning te verhoog en om te help om sy mislukte afkondiging van krygswet in 2024 te verdedig. Die Hooggeregshof in Seoel het Yoon en sy gewese minister van Verdediging, Kim Yong-hyun, en nog twee ander skuldig bevind aan verraad en misbruik van mag. Yoon, wat enige misstap ontken het, is in Februarie tot lewenslange tronkstraf gevonnis omdat hy ‘n rebellie gelei het deur die mislukte afkondiging van krygswet.
# Rugby: Die Springbokafrigter Rassie Erasmus sê ten spyte van ‘n aansienlike beseringslys en die hele Bulle-span wat nie beskikbaar is nie, het hulle meer as genoeg spelers om van te kies vir die 2026-seisoen. Die Bokke begin aftel na die begin van ‘n uitputtende reeks van 14 wedstryde wat strek van volgende naweek se Barbarians-stryd in Gqeberha tot hul laaste toets in November teen Ierland in Dublin. Erasmus het bekend gemaak RG Snyman en Kwagga Smith is vir die res van die jaar buite aksie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-14-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-178-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….