Nuus 11:00
BULLETIN 9 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier sê ‘n gebrekkige strafregstelsel stel Suid-Afrikaners in gevaar
# Donald Trump sê Amerika gaan binne die volgende twee weke ‘n algehele oorwinning oor Iran behaal
# En sokker: Broos sê Bafana Bafana sal alles moet uithaal om Mexiko te klop in die Wêreldbeker-openingswedstryd
# Die DA sê die strafregstelsel misluk om slagoffers van misdaad te beskerm. Sy toesigbesoeke het tekorte aan bewysstelle vir seksuele oortredings by sommige polisiestasies gevind, wat sake van geslagsgeweld beïnvloed. Die DA-leier Geordin Hill-Lewis sê swak wetstoepassing, swak ondersoeke en hof-vertragings beteken misdadigers kom weg en gemeenskappe bly onveilig. Hill-Lewis vra beter wetstoepassing, deegliker ondersoeke en vinniger hofprosesse om veiligheid te verbeter en te verseker dat misdadigers aan die pen ry.
# President Cyril Ramaphosa het die sperdatum vir ‘n verslag deur Eskom se herstrukturerings-taakspan tot einde Junie verleng. Die span moet kyk na die vestiging van Suid-Afrika se onafhanklike transmissie-stelseloperateur. Die werk fokus op die vestiging van ‘n volledig onafhanklike, staatsbeheerde operateur wat transmissiebates besit en beheer. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die werk word in twee fases verdeel: die vestiging van die operateur en die ontwikkeling van ‘n volledige inwerkingstellingsplan:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie verwelkom die skorsing van nog vyf senior polisie-offisiere wat by die omstrede Medicare24-tender van 360-miljoen-rand betrek word. Altesaam 14 lede is reeds vasgetrek oor die tender wat aan Vusimuzi ‘Cat’ Matlala se maatskappy toegeken. Hy staan tereg op onder meer poging tot moord. Die komitee se voorsitter, Ian Cameron, sê die skorsings is ‘n noodsaaklike stap na betekenisvolle aanspreeklikheid. Hy sê korrupsie in die Polisiediens ondermyn nie net wetgewende prosesse en verkrygingstelsels nie, maar ondermyn die publiek se vertroue in die polisie.
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê hulle gaan binne die volgende twee weke ʼn algehele oorwinning oor Iran verklaar. Hy het herhaaldelik gesê hy verwag die konflik sal binnekort eindig, maar dit het tot toenemende spanning gelei. Trump het ook telkens gewaarsku militêre optrede sal verskerp indien Teheran nie instem tot ʼn ooreenkoms nie. Hy sê Iran is gewillig om aan eise te voldoen, insluitend om nie kernwapens te hê nie:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, hou vol sy span sal gereed wees om die medegasheer, Mexiko, Donderdag te pak in hul Wêreldbeker-openingswedstryd. Hy sê hulle het die regte wedstrydplan, en moet dit net uitvoer. Suid-Afrika het op 29 Mei gelykop gespeel teen Nicaragua in Johannesburg en die afgelope naweek ook teen Jamaika in Pachuca. Broos verwag ʼn intimiderende atmosfeer en beklemtoon dat Mexiko ʼn gevaarlike span is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-308-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-333-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….