Nuus 11:00
BULLETIN 8 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# March and March sê Cyril Ramaphosa se oplossings vir onwettige immigrasie is onprakties
# Die ANC skors drie Oos-Kaapse lede wat ‘n interdik teen party se provinsiale konferensie kry
# En rugby: Tony Brown verlaat die Springbokke ná die Wêreldbeker om by die All Blacks aan te sluit
# Die burgerlike teen-immigrasiegroep March and March het aspekte van president Cyril Ramaphosa se toespraak oor onwettige immigrasie verwelkom, maar sê die regering se voorgestelde maatreëls ignoreer die omvang van die krisis. Ramaphosa sê die regering sal sy migrasiestrategieë verbeter en toeslaan op mense wat die land onwettig binnekom. March and March se leier, Jacinta Ngobese-Zuma, sê Ramaphosa moet van voor af begin, want die meeste van sy voorstelle is onprakties:
Die vakverbond SAFTU ondersteun intussen die regering se strenger optrede teen werkgewers wat ongedokumenteerde werkers uitbuit. Ramaphosa het gewaarsku dat strenger straf, insluitend tronkstraf, sal volg teen werkgewers wat ongedokumenteerde migrante aanstel. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê korrupte amptenare van Binnelandse Sake, arbeidsmakelaars wat uitbuiting moontlik maak, misdaadsindikate en vigilante-groepe wat mense aanrand onder die dekmantel dat hulle immigrasiewette wil toepas, moet ook vervolg word:
# Die ANC se provinsiale taakspan in die Oos-Kaap het drie lede geskors wat in Maart ‘n interdik bekom het om te keer dat die provinsiale konferensie plaasvind. Die taakspan beskuldig Lwazi Rotya, Sinethemba Mpande en Nompumelelo Mzothwa van wangedrag en dat hulle die party in oneer gebring het. Die ANC het herhaaldelik beklemtoon hoewel lede die reg het om te verskil en hul kommer te lug, kan hulle nie die party hof toe neem en sy bedrywighede belemmer nie.
Nuus uit die buiteland:
# ʼn Aardbewing van 7,8 het die Mindanao-streek in die suide van die Filippyne vanoggend getref. Minstens 15 mense is dood en 129 beseer. Sowat 138 naskokke is aangeteken. Die aardbewing het tot tsunami-waarskuwings in dié land, asook Indonesië en Japan gelei. Owerhede sê noodpersoneel fynkam die puin van ingestorte geboue en waarsku die sterftesyfer kan toeneem. Die Filippyne, Indonesië en Japan is op die sogenaamde “Ring van Vuur” geleë. Dit bestaan uit ‘n reeks onderwater-vulkane en plekke waar meer seismiese bedrywighede voorkom.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter Tony Brown het ‘n tweejaarkontrak vanaf 2028 gesluit met Nieu-Seeland, vir wie hy tussen 1999 en 2001 18 toetse gespeel het. Sy kontrak met die Bokke eindig na volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Australië. Dave Rennie en die res van sy All Blacks-afrigtingspan is tans net tot die Wêreldbeker-toernooi gekontrakteer. Die uitvoerende hoof van Nieu-Seeland Rugby, Steve Lancaster, sê Brown is ‘n wêreldklas-afrigter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-885-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-299-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….