Nuus 11:00
BULLETIN 5 Junie 11vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementêre subkomitee kom ooreen oor die reëls vir die ampsklagkomitee
# Die hoof van die polisie se Eenheid teen Georganiseerde Misdaad word afgedank
# En sokker: Broos gaan die vriendskaplike wedstryd teen Jamaika gebruik om sy taktiek uit te stryk voor die Wêreldbekertoernooi
# ‘n Subkomitee van die Nasionale Vergadering se reëlskomitee het ooreengekom oor die reëls wat die werk van die ampsklagkomitee sal lei. Dis in ooreenstemming met die Konstitusionele Hof se beslissing dat die ampsklag-prosedure teen president Cyril Ramaphosa oor die Phala Phala-sage voortgaan. Hy het die Artikel 89-paneel se verslag in hersiening geneem en benadruk dat hy nie die ampsklagkomitee se voorbereidingswerk sal teenstaan nie. Die subkomitee se voorsitter, Doris Mpapane, sê die voorgestelde reëls sal volgende week vir oorweging aan die reëlskomitee voorgelê word.
# Die Polisiediens het die hoof van sy Eenheid teen Georganiseerde Misdaad, Richard Shibiri, afgedank ná ‘n dissiplinêre proses verlede maand. Hy is in getuienis voor die Madlanga-kommissie beskuldig dat hy tussen 70- en 80-duisend-rand van die moordbeskuldigde Vusimuzi ‘Cat’ Matlala ontvang het. Getuienis verbind hom ook met beweerde inmenging by verskeie ernstige strafsake. Nasionale polisie-woordvoerder Athlenda Mathe sê Shibiri se tugverhoor was regverdig:
# Die adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, sê daar is ʼn dringende behoefte om die ekonomie te industrialiseer, begrensing te verskerp en plaaslike terugwaartse bande te versterk, veral in die mynbedryf. Dié sektor bly ʼn hoeksteen van die ekonomie en het in 2024/25 meer as ses-persent tot die land se nominale bruto binnelandse produk bygedra. Morolong sê die mynbedryf moet die basis word waarop die land ʼn uiteenlopende en nywerheids-gerigte ekonomie bou. Hy sê dit moet gebruik word as katalisator vir strukturele hervorming.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Departement van Finansies het nuwe ekonomiese sanksies teen die Kubaanse president, Miguel Diaz-Canel, sy vrou en stiefseun ingestel. Dit sluit ook in die seun van oudpresident Raúl Castro, Alejandro Castro Espín, die minister van die Revolusionêre Weermag en ander eenhede. Amerika het verlede maand sanksies ingestel teen elf Kubaanse amptenare, sewe Weermagleiers en sy hoofintelligensie-agentskap. President Donald Trump ontken dit is gemik op die versnelling van Kuba se instorting:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê vandag se vriendskaplike wedstryd teen Jamaika is die ideale geleentheid om taktiek uit te klaar voor Donderdag se eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Mexiko. Suid-Afrika kon nie oorwinnings behaal in sy laaste vier wedstryde nie. Die doelskopper-posisie is die grootste kwessie wat uitgestryk moet word. Bafana het teen Nicaragua 22 geleenthede verbeur om punte aan te teken. Broos sê Jamaika is ʼn sterk teenstander:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-455-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-457-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….