Nuus 11:00
BULLETIN 2 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa lewer vanmiddag die Presidensie se begrotingsrede
# Steenhuisen sê die regering verseker bek-en-klouseer-beheermaatreëls ontwrig nie onnodig handel nie
# En rugby: Die beseringsgeteisterde Stormers word versterk deur die terugkeer van twee sleutelspelers vir die VRK-halfeindstryd
# President Cyril Ramaphosa lewer vanmiddag die Presidensie se begrotingsrede voor die Nasionale Vergadering, waarna ‘n debat volg. Dit vind plaas te midde van verhoogde politieke spanning weens die hangende ampsklagondersoek teen hom. Die Presidensie sê vanjaar se begroting fokus op sake soos ʼn intelligensie-gedrewe benadering om misdaadnetwerke aan die kaak te stel, regeringskommunikasie te koördineer om die burgery in te lig en te bemagtig, en nasionale statistieke te moderniseer. Ramaphosa sal môre op die debat oor die begroting reageer.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika behou belangrike vee-uitvoermarkte odanks die bek-en-klouseer-uitbreking. Die land het sedert Februarie 13,5-miljoen dosisse entstof bekom en byna 4,4-miljoen diere ingeënt. Steenhuisen sê die regering dra die koste van die inentingsveldtog om die uitwerking op boere te verminder. Hy sê handelsgesprekke gaan voort om seker te maak markte bly oop vir Suid-Afrikaanse produkte en vertroue in dieregesondheidstelsels ly nie skade nie:
# RISE Mzansi sê hy bied aan inwoners van Johannesburg ‘n wettige en goeie alternatief vir die onderskeie gevestigde politieke partye, wat sedert 2016 die land se ekonomiese en finansiële sentrum swak regeer het. Die party se burgemeesterskandidaat vir die metro is Lukhona Mnguni. Woordvoerder Mabine Seabe sê die herhaalde uitsprake wat daarop gemik is om sogenaamde kleiner partye te skaad en kiesers te vra om nie vir hulle te stem nie, is ondemokraties en ondermyn die wil van kiesers:
Nuus uit die buiteland:
# Die Irans-gesteunde Hizbollah het ingestem tot ʼn Amerikaanse voorstel vir ʼn skietstilstand waar die groep aanvalle op Israel staak en Israel nie die Libanese hoofstad, Beiroet, aanval nie. Dit volg nadat Iran aan vredesonderhandelinge met Amerika onttrek het uit verset teen Israel se aanvalle in Libanon. Die huidige konflik het in Maart begin nadat Hizbollah vuurpyle na Israel afgevuur het toe Amerika en Israel Iran se opperleier doodgemaak het. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, waarsku optrede teen Beirut sal voortgaan indien Hizbollah nie aanvalle op sy land staak nie.
# Rugby: Die Stormers het ‘n groot hupstoot gekry voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd teen Leinster in Dublin. Die slot Ruben van Heerden is terug in die groep na harsingskudding en die senter Dan du Plessis na ‘n kniebesering. Die Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu en die vleuel Seabelo Senatla is beseer tydens die kwarteind-oorwinning oor Cardiff. Die Stormers se voorspeler-afrigter, Rito Hlungwani, verwag ‘n moeilike wedstryd teen Leinster:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-748-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-536-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….