Nuus 11:00
BULLETIN 31 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister De Lille sê die Krugerwildtuin is ‘n globale toerisme- en erfenisikoon
# Die Inkomstediens se Doeane- en Aksynshoof verdedig die nuwe voertuigverklaringsreëls
# En tennis, ‘n skok-nederlaag vir die verdedigende kampioen Coco Gauff by die Franse Ope
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê die Krugerwildtuin is ‘n ikoniese wêrelderfenisgebied en een van Suid-Afrika se belangrikste toerismebates. De Lille het tydens die park se 100-jaarvieringe by die Skukuza-ruskamp in Mpumalanga die park se bydrae tot bewaring, biodiversiteitsbeskerming en ekonomiese ontwikkeling geprys. Sy sê Kruger lok steeds besoekers van regoor die wêreld terwyl dit werksgeleenthede en plaaslike gemeenskappe ondersteun:
# Die DA-leier Geordin Hill-Lewis het ‘n historiese deurbraak vir die party gevier na ‘n oorwinning in Mfuleni, ‘n gemeenskap waar die DA voorheen net een-persent van die stemme gekry het. Tydens die bekendstelling van die party se kieserregistrasieveldtog in Tshwane het Hill-Lewis gesê onlangse verkiesingsoorwinnings in Mfuleni, Everton en Makishamalala is ‘n keerpunt in die Suid-Afrikaanse politiek. Hy het die uitslag beskryf as bewys van groeiende steun buite die DA se tradisionele kiesersbasis:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se hoof van Doeane- en Aksyns, Beyers Theron, het herhaal dat alle buitelandse geregistreerde voertuie wat Suid-Afrika binnekom, vanaf môre verklaar moet word vir tydelike invoer. Beyers sê buitelandse voertuigeienaars moet voertuie deur die Reisigersbestuurstelsel verklaar, voor hulle die land binnekom of verlaat. Hy het in gesprek met SABC News beklemtoon die proses vorm deel van pogings om doeanestelsels te vernuwe en veiligheid by toegangspunte te versterk:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het die belangrike rol van regspraktisyns in die bevordering van grondwetlike waardes, sosiale geregtigheid en gelyke toegang tot geleenthede binne die regsberoep beklemtoon. Kubayi het tydens ‘n byeenkoms van die regsektor in Kimberley, Noord-Kaap, die behoefte aan voortgesette transformasie, inklusiwiteit en regverdige verteenwoordiging regdeur die beroep beklemtoon. Sy het ook ‘n beroep op regspraktisyns gedoen om ‘n leidende rol te speel in die handhawing van die Grondwet en die ondersteuning van Suid-Afrika se breër sosio-ekonomiese ontwikkelingsdoelwitte.
# Botsings tussen sokkerondersteuners en polisie regoor Frankryk het tot meer as 400 arrestasies gelei na die oorwinning van Paris Saint-Germain oor Arsenal in die Kampioeneliga-eindstryd. Duisende beamptes is ontplooi om onrus te bekamp wat bus-, trein- en spoordienste in die hoofstad Parys ontwrig het. Vuurwerke en fakkels is afgevuur, terwyl verskeie polisiebeamptes in die bakleiery beseer is. Polisie het traangas afgevuur om skares in die middestad uiteen te jaag. Polisie sê ses voertuie, twee besighede en ‘n busskuiling is tydens die onrus beskadig.
# En ten slotte tennis, die verdedigende kampioen, Coco Gauff van Amerika, is gister in ‘n skoknederlaag in die derde ronde van die Franse Ope uitgeskakel. Die wêreld-nommer-drie is deur die 28ste gekeurde Anastasia Potapova in drie stelle geklop. Gauff het in haar vorige wedstryde indrukwekkend op die Paryse kleibaan vertoon. Sy het haar veldtog geopen met ‘n oorweldigende 6-4, 6-0 oorwinning oor Taylor Townsend, en toe die Egiptiese kwalifiseerder Mayar Sherif in twee stelle in die tweede ronde kafgedrag. Potapova, wat nou vir Oostenryk speel, kom in die rondte van 16 teen die 22ste gekeurde, Anna Kalinskaya van Rusland te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….