Nuus 11:00
BULLETIN 23 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ronald Lamola vra verbeterde SAOG- streeksamehorigheid en -veerkragtigheid
# Minister Buti Manamela sê Suid-Afrika het ‘n probleem met die werksmag se oorgangsvermoë
# En meer as 80 mense is dood in ‘n gasontploffing by ‘n Chinese steenkoolmyn
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, versoek verbeterde streeksamehorigheid en -veerkragtigheid tussen Suider-Afrikaanse lande. Hy het gepraat tydens die opening van ‘die ‘n ontmoeting tussen SAOG Ministers van Buitelandse Sake in die Krugerwildtuin, Mpumalanga. Minister Lamola waarsku wêreldwye geopolitieke spanning en ekonomiese onsekerheid plaas toenemende druk op die streek, wat bydra tot stygende voedselpryse, inflasie en finansiële druk:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê Suid-Afrika het nie oorwegend ‘n vaardigheidstekort nie, maar eerder ‘n probleem met die oorgangsvermoë van die werksmag. Manamela het die Vaardigheidsforum van die Johannesburgse Sakeskool by die Universiteit van Johannesburg toegespreek. Die minister sê ‘n vaardigheidstekort dui aan Suid-Afrika het meer gegradueerdes nodig, en ‘n probleem met die werksmag se oorgangsvermoë beteken die instellings is nie voldoende ingestel om mense te skuif van waar hulle is na waarheen die ekonomie op pad is nie:
# Die George-munisipaliteit het noodwatertariewe opgehef en waterbeperkings vanaf Vlak 2D na Vlak 2B verslap. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, sê die besluit volg nadat daar ‘n beduidende verbetering in die opgaarkapasiteit van die Tuinroete-dam was, wat binne twee weke ná swaar reën in die opvanggebiede gestyg het van 46,09-persent tot byna 89-persent. Hy sê die Haarlem-dam het ook ten volle herstel en is tans 100-persent vol:
# ‘n Gasontploffing in ‘n steenkoolmyn in Noord-China het die lewens van 82 mense geëis. Staatsmedia berig reddingspogings is aan die gang, en slagoffers word nog getel, maar ten minste nege mense is steeds vermis. Dit is nie duidelik hoeveel mense in die myn in die Shanxi-provinsie vasgekeer is nie. Steenkool is ‘n belangrike energiebron in China ondanks onlangse pogings om weg te beweeg van fossielbrandstof. Shanxi is ‘n belangrike spilpunt vir Chinese steenkool en die tuiste van ‘n mynbedryf met ‘n berugte swak veiligheidsrekord.
# En motorsport: Williams se renjaer Alex Albon is uit die Kanadese Grand Prix snelren nadat hy tydens Vrydag se oefensessie teen ‘n bos-marmot vasgery en ‘n ongeluk gehad het. Sy span kon ten spyte van alle moontlike pogings nie daarin slaag om die motor betyds te herstel nie. Die skade was erger as wat oorspronklik gedink is en die ratkas en krageenheid moes vervang word. Die Thaise bestuurder is ‘n groot diereliefhebber en het selfs ‘n Albon Pets Instagram-bladsy vir sy katte, perde en honde.
Intussen is George Russell van Mercedes en sy spanmaat en kampioenskapsvoorloper Kimi Antonelli op die voorste ry vir die snelwedren later vandag. Die twee McLarens van Lando Norris en Oscar Piastri is onderskeidelik derde en vierde, met Ferrari se sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton vyfde, met sy spanmaat Charles Leclerc langs hom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….