Nuus 11:00
BULLETIN 24 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder waarsku onderlinge gevegte kan die nakoming van die ANC se verkiesingsbeloftes kniehalter
# Iran dreig met wraak teen Amerika se ekonomiese oorlog
# En Akani Simbine, Pieter Coetze en Prudence Sekgodiso is die groot wenners op die SA Sporttoekennings
# Die politieke ontleder Ongama Mtimka vergelyk die ANC se huidige posisie met dié van ‘n sportafrigter met ʼn uitstekende wedstryd-plan, maar sonder die organiserings-vermoë om dit uit te voer. Die party se manifes bevat ses belangrike voorkeur-gebiede gemik op die herstel van openbare vertroue, insluitend aandag aan dienslewerings-probleme. Mtimka het aan Newzroom Afrika gesê ʼn begeerte vir etiese, bevoegde leierskap word uiteengesit, maar die kandidate-kortlys vertel ʼn heeltemal ander storie:
# Die grondwet-kenner, professor Pierre de Vos, sê die Wetsontwerp op Koalisies se probleem is dat dit aandag wil gee aan die simptome van wanbestuur en onbestendigheid in plaaslike regering en nie aan die grondoorsake nie. Die wetsontwerp stel ʼn regsraamwerk voor vir die vorming van koalisieregerings. De Vos sê in ʼn artikel vir News24 die wetsontwerp bevat vae bepalings wat moeilik toepasbaar is en tot ʼn vlaag regsgedinge sal lei. Hy stel ʼn verandering aan die kiesstelsel voor om ʼn stelsel met minder wanfunksionerende politieke partye te skep.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê diegene wat die moord op die fluitjieblaser, Babita Deokaran, gefinansier en daarby gebaat het, moet voor die gereg gebring word. Dit was gister vyf jaar sedert sy buite haar huis in Johannesburg doodgeskiet is nadat sy uitgebreide plundering by die Tembisa-hospitaal ontbloot het. Die Spesiale Ondersoekeenheid verbind die korrupsie met minstens drie gekoördineerde sindikate en die sakemanne Hangwani Maumela en Vusimusi “Cat” Matlala. Cachalia sê die Valke het hom verseker die ondersoek gaan voort:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se veiligheidshoof, Mohsen Rezaei, waarsku Teheran is bereid om Amerikaanse oliemaatskappye en ander ekonomiese belange in die streek te teiken indien Amerika sy ekonomiese oorlog uitbrei. Die Amerikaanse minister van Finansies, Scott Bessent, gaan vandag na verwagting nuwe sanksies teen Iran aankondig. Rezaei dreig ook dat Teheran alternatiewe roetes sal teiken wat gebruik word om olie uit die Golf uit te voer. Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate het roetes uitgebrei om hul olie deur hawens in die Rooi See en die Golf van Oman uit te voer.
Nou sportnuus:
# Die naelloper en Olimpiese silwermedaljewenner, Akani Simbine, is aangewys as Sportster van die jaar op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings in Noordwes. Die swemmer Pieter Coetze en die middelafstand-atleet Prudence Sekgodiso het onderskeidelik Sportman en Sportvrou van die Jaar gewen. Puseletso Mabote is aangewys as Gestremde Sportman van die Jaar met Simoné Kruger die wenner in die vroue-afdeling. Die Olimpiese silwermedaljewenner, Bayanda Walaza, het die toekenning as Jong Sportster van die Jaar ingepalm. Die Proteas se manstoetskrieketspan is bekroon as Span van die Jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-517-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-645-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….