Nuus 11:00
BULLETIN 14 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê niemand gaan president Cyril Ramaphosa verwyder sonder die ANC se stem nie
# Die presidente van Amerika en China is positief oor ‘n sterker verhouding tussen die twee lande
# En rugby: Minister Gayton McKenzie wil hê Suid-Afrika moet weer die Wêreldbekertoernooi aanbied
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party sal nie oorreed of geboelie word om president Cyril Ramaphosa te verwyder nie. Die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, het besluit om ‘n ampsklagkomitee met 31 lede aan te stel na die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Phala Phala-kwessie. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het gisteraand in Kaapstad vergader om die uitspraak te bespreek. Mbalula sê opportunistiese elemente probeer Ramaphosa dwing om te bedank:
Die African Transformation Movement verwelkom intussen die aanstelling van die komitee, maar waarsku dit moenie net nog ʼn versigtig uitgewerkte parlementêre vertoning wees nie. Die hof het beslis dat die Parlement se versuim om die Artikel 89-paneel se verslag te aanvaar dat Ramaphosa moontlik sy ampseed oortree het, ongrondwetlik was. ATM se leier, Vuyo Zungula, sê die proses moet op grondwetlike beginsels en feitelike aanspreeklikheid gegrond word:
# Die Mededingingskommissie sê die land se ekonomie bly hoogs gekonsentreerd ondanks tekens van verbetering in verskeie sektore. Waarnemende adjunkkommissaris James Hodge het die jongste verslag van die Economy Concentration Tracker voorgelê en waarsku klein ondernemings sukkel steeds om te groei en betekenisvol aan die ekonomie deel te neem. Die verslag toon vervaardiging, mynbou, energie en vervoer bly die mees gekonsentreerde sektore. Dit het ook aan die lig gebring dat klein en mediumgrootte ondernemings die meeste geregistreerde firmas uitmaak, maar slegs 22-persent van die algehele omset verteenwoordig.
Nuus uit die buiteland:
# President Xi Jinping sê China en Amerika moet vennote eerder as teenstanders wees. Hy en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, het vandag in Beijing bilaterale gesprekke gevoer oor ekonomiese voordele, die handhawing van ʼn brose handelsooreenkoms en kwessies soos die Iranse oorlog en wapenverkope aan Taiwan. Trump het beloof dat die verhouding tussen China en Amerika beter as ooit sal wees, en is ook positief oor sy verhouding met Xi:
# Rugby: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê hy sal nie rus voor Suid-Afrika weer die Wêreldbekertoernooi aanbied nie. Die land het die toernooi laas in 1995 aangebied toe die Springbokke die trofee met die eerste probeerslag opgeraap het. SA Rugby het daarna talle onsuksesvolle pogings aangewend om die wêreldskouspel aan te bied. Australië is die gasheer in 2027 en Amerika in 2031. McKenzie sê hy soek borge en die regering se ondersteuning om dalk te bie vir 2035.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-20 teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-706-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-697-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….