Nuus 11:00
BULLETIN 13 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid sê geen gevaar bestaan vir ‘n uitbreking van die hantavirus in Suid-Afrika nie
# Trump sê hy het nie China se hulp nodig om die oorlog met Iran te beëindig nie
# En krieket: Die ervare snelbouler Darcie Brown haal nie die Australiese vroue se T20-Wêreldbekergroep nie
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê geen gevaar bestaan dat die hantavirus in Suid-Afrika sal uitbreek nie. Altesaam 97 mense in Suid-Afrika het moontlik kontak gehad met mense wat verbind word met die uitbreking op die Nederlandse passasierskip, MV Hondius, waaraan drie mense dood is. Gesondheidsamptenare het die virus by ‘n Britse passasier geïdentifiseer na sy aankoms in Suid-Afrika. Motsoaledi sê die virus versprei nie maklik tussen mense nie:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, waarsku Suid-Afrika ondervind groeiende mededinging van buurlande, wat in nuwe spoor- en hawe-infrastruktuur belê. Die departement se begroting van 102-miljard-rand vir die 2026/27-boekjaar is gemik op ‘n hervormde, inklusiewe en mededingende vervoerstelsel. Creecy sê hulle het aansienlike vordering gemaak om belegging te ontsluit en lewering van infrastruktuur te bespoedig. Dit sluit die Durbanse vraghouerterminaal Landingshoof 2-konsessie in wat finansiële afsluiting bereik het. Sy sê logistieke en bewegingshervorming moet die kern van hervorming wees vir volhoubare ekonomiese groei in die lang termyn.
# AfriForum vra ‘n volledige ondersoek na herhaalde sekerheidsbreuke by basisse van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in Gauteng, insluitend inbrake en wapendiefstal. Die organisasie sê dit dui op ernstige nasionale veiligheidskwessies en moontlike sindikaatbetrokkenheid of interne samespanning. AfriForum het ook aangebied om die Weermag te help met opleiding oor die uitvoering van sekerheids-beoordelings. Woordvoerder Jacques Broodryk sê strenger beheermaatreëls is nodig om strategiese militêre infrastruktuur te beskerm en verdere oortredings te voorkom:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy het nie sy Chinese ampsgenoot, Xi Jinping, se hulp nodig om die oorlog met Iran te beëindig nie. Die leiers van die wêreld se twee grootste ekonomieë voer môre die eerste keer in meer as ses maande regstreekse gesprekke. Trump kom vanaand in Beijing aan – die eerste Amerikaanse president in meer as ʼn dekade wat China besoek. China maak op Iran staat vir goedkoop olie. Trump sê hy sal die oorlog met Xi bespreek:
# Krieket: Die snelbouler Darcie Brown is nie ingesluit in Australië se groep van 15 vir die Vroue-T20-Wêreldbekertoernooi in Engeland en Wallis nie. Keurders het die onervare Lucy Hamilton in haar plek gekies. Die veelsydige Sophie Molineux het ‘n fiksheidstoets geslaag en sal die span aanvoer. Die ervare Ellyse Perry en Beth Mooney is ook ingesluit. Die keurder Shawn Flegler sê Brown se weglating is weens die toestande wat hulle verwag en die span se samestelling. Australië se eerste wedstryd is op 13 Junie teen Suid-Afrika op Old Trafford.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-29 teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-979-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-700-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….